Sasolburg-huis met klippe bestook

Argieffoto

Kriminele buit glo die gewelddadige betoging in Sasolburg uit en word van twee voorvalle Woensdagaand verdink.

In die eerste voorval is ʼn huis met klippe bestook en in die tweede voorval is ʼn bouperseel aan die brand gesteek. Niemand is in die voorvalle beseer nie. “Dit wil voorkom of die voorvalle krimineel gemotiveerd is deur misdadigers wat van die gespanne situasie in die gebied misbruik wil maak,” het konst. Peter Kareli, ʼn polisiewoordvoerder, gesê.

“Sowat 12 mense het klippe na die huis gegooi en toe weggehardloop. Die motief agter die voorval is nog nie bekend nie, want die huis word nie deur ʼn munisipale beampte besit nie,” het Kareli gesê.

Kareli sê inwoners het Woensdagmiddag uit hul eie die puin in die strate ná die betoging begin opruim.

Teen Donderdagoggend was die gebied rustig en het sake na normaal begin terugkeer. “Die situasie is nou kalm. Daar gaan steeds ‘n paar polisiebeamptes in die gebied wees om seker te maak alles is onder beheer,” het Kareli gesê.

Vier mense is dood en minstens 238 mense is in hegtenis geneem nadat geweld Sondag in Zamdela naby Sasolburg uitgebreek het. Inwoners het glo betoog oor planne om Sasolburg met die Ngwathe plaaslike munisipaliteit te laat saamsmelt. Richard Baloyi, minister van samewerkende regering en openbare sake, het Dinsdag aangekondig dat die samesmelting nie nou dadelik sal voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.