Satan is die dryfveer van misdade in SA, sê LUR

“Satan is die dryfveer agter sekere misdade in Suid-Afrika,” het Nono Maloyi, LUR vir menslike nedersetting en openbare veiligheid in Noordwes gesê.

“Hy het oorlog teen die mense van Suid-Afrika, die Noordwes-provinsie en Coligny verklaar,” het Maloyi tydens die teraardebestelling van twee misdaadslagoffers gesê, berig TimesLive.

Ds. Elias Maretlwa en sy dogter Leki, is Saterdag by Tlhabologang sportsgronde buite Coligny begrawe. Leki (23) en haar pa (61) is vermoedelik deur sy vrou vermoor, en toe in die slaapkamer van hul huis begrawe.

“Satanisme is die enigste bose mag wat vroue sal noop om hul mans en kinders te vermoor, en vir mans om hul eie kinders te verkrag,” het Maloyi aan die sowat 400 begrafnisgangers gesê.

Die polisie het twee weke gelede die voormalige dominee van die Nasionale Onafhanklike Gemeente se ontbinde liggaam en ʼn geraamte, wat vermoedelik Leki sʼn is, in ʼn vlak graf onder ʼn bed in die huis opgespoor.

Die dominee word al sedert Desember vermis, en Leki word reeds sedert 2009 vermis.

Die dominee se vrou en ʼn tiener is tans in polisieaanhouding in verband met die moorde. Die vrou het glo aan familielede gesê die pa en dogter is beide in Botswana waar hulle as tradisionele helers opgelei word. Sy het beweer hulle sou op 16 Junie vanjaar terugkeer. Ná herhaaldelike ondervraging deur die plaaslike gemeenskap toe hulle nie terugkeer nie, het sy glo die plek uitgewys waar hulle begrawe is.

Die vrou het glo erken dat sy hulle in die huis, wat gereeld vir eredienste gebruik word, begrawe het, omdat sy te arm was om ʼn begrafnis te kon bekostig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.