“Sataniese moorde”: CDP spreek meegevoel uit

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het Maandag sy meegevoel uitgespreek met die naasbestaandes en vriende van Natascha Burger en Joy Boonzaaier wat verlede week in ‘n beweerde sataniese aanval in Pretoria vermoor is.

Burger (33) en Boonzaaier (68) is Donderdagmiddag tussen 16:00 en 16:30 met ʼn mes doodgesteek in die Lancelot-kompleks in Reddersburgstraat, Centurion. Die voorval het in Boonzaaier se huis plaasgevind. Burger en ’n paar vriende was betrokke by ’n bidgroep en bediening wat met voormalige sataniste werk. Hulle staan as Overcomers in Christ bekend. Volgens Pastoor Walter Stander, ’n kapelaan van die Kuriake-bediening, het Burger die afgelope paar weke voor haar dood glo verskeie dreigemente ontvang.

Linda Pretorius, woordvoerder van die CDP, het gesê dié moorde volg weke na ʼn beplande petrolbomaanval op dieselfde bediening in Krugersdorp op ʼn wonderbaarlike wyse voorkom is.

“Die eerste gedagte wat by ʼn mens opkom is, wie onder ons is bereid om te sterf vir dit waarin ons glo? Sataniste, wat die ryk van die duisternis goed ken, het nie geaarsel om twee mense te vermoor om die een stil te maak wat besig was om satan se duiwelswerk wat onder ons neuse aan die gang is te openbaar nie,” het sy gesê.

“Baie Christenkerke stamp nog koppe oor die bestaan van die duiwel. Intussen sien ons die graffiti in ons woongebiede en word ons slagoffers van ons onkunde en onvermoë om ‘bloedvloeke’ waar te neem. Ons nasie lewe in sonde maar ons is baie gou om te vra hoekom God nie die twee vroue beskerm het nie. Die antwoord is eintlik baie eenvoudig: ‘ Word wakker en aanbid God,” het sy bygevoeg.

Kaptein Agnes Huma, ʼn polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek die moontlikheid dat die moorde met satanisme verband hou. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.