‘Sataniese ritueel’: Beskuldigde het glo God gevind

Kirsty Theologo

Kirsty Theologo

Die beweerde sataniese moord van Kirsty Theologo was glo nie behoorlik beplan nie, het die Johannesburgse hooggeregshof se sitting in Palm Ridge Donderdag gehoor.

Suzette Heath, kliniese sielkundige, het gesê Theologo se vermeende moordenaars het nooit hul planne volledig uiteengesit nie. Heath het een van die beskuldigdes, Robin Harwood, gekonsulteer. “Daar was selfs onenigheid oor waar die moord sou plaasvind. ʼn Paar van die beskuldigdes het gedink dit sou eers drie weke later plaasvind,” het Heath getuig.

Volgens Heath het die beskuldigdes ook te min petrol gehad om ʼn persoon te laat verkool. Die groep aanvallers het glo ʼn klein bietjie petrol in ʼn vrugtesapbottel saamgebring.

Theologo het op 28 Oktober 2011 in die hospitaal aan haar beserings beswyk nadat sy herhaaldelik met ʼn klip oor die kop geslaan en aan die brand gesteek is nadat petrol oor haar uitgegooi is. Dit was glo deel van ʼn ritueel om “siele te verkoop”. Die voorval het op ʼn koppie in Linmeyer buite Johannesburg plaasgevind. Haar vriendin, wat in daardie stadium 14 jaar oud was, het die aanval oorleef.

Heath sê die groep het nooit bevestig wie aan die aanval sou deelneem nie. “Die groep het nooit konsensus bereik nie.”

Volgens Heath het Harwood Theologo liefgehad. “Hy het haar as die ‘vrou van die huis’ beskou.” Harwood en Theologo was glo vroeër vir ʼn kort rukkie lank in ʼn verhouding.

Heath het aan die hof gesê Harwood glo Theologo se moord het hom na God gelei. “Die hele ding het verkeerd geloop, so Harwood glo dit is hoe God bepaal het dat hy Hom moet ontmoet.”

Uit haar aantekeninge het Heath Harwood se woorde voorgelees: “Ek is jammer dat dit gebeur het. Ek kan nie negatief daarna kyk nie, want dan sal ek breek.”

Harwood het nie daaraan gedink om die meisies te help nadat hulle aan die brand gesteek is nie. Hy en sy medebeskuldigdes het die beseerde meisies op die koppie agtergelaat. “Hy het gesê hy het weggehardloop, hy het nie daaraan gedink om hulle te help nie.”

Heath het getuig sy kon nie bepaal of Harwood en sy medebeskuldigdes besorg was oor die meisies se welstand nie, aangesien hulle die volgende dag in ʼn klub gaan kuier het.

Sy het vroeër verduidelik waarom Harwood nie al die besonderhede van die voorval kan onthou nie. “Dis moontlik dat hy sy eie bydrae tot die voorval wil verminder. Alhoewel hy dalk bewus was van sy dade, het hy moontlik nie die gevolge ten volle begryp nie.”

Heath sê groepsdruk, alkohol, dwelmmiddels en die feit dat die voorval ʼn ooreenkoms met die duiwel ingesluit het, kon moontlik daartoe bygedra het dat Harwood nie vroeër uit die aanval onttrek het nie.

Harwood, Linden Wagner, Courtney Daniels en Harvey Isha staan tereg op die moord van Theologo en poging tot moord op haar vriendin.

Jeremy King en Lester Moody het vroeër skuld beken op hul aandeel in die moord en is elk tot 17 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is.

Die saak is tot 29 Oktober uitgestel wanneer ʼn ander sielkundige na verwagting sal getuig.

Lees ook:
‘Sataniese ritueel’: Hof hoor hulle wou siele verkoop
‘Sataniese ritueel’: Regter siek, saak uitgestel
‘Sataniese ritueel’: Beskuldigde het mag gesoek
‘Sataniese ritueel’: Getuienis bevraagteken
‘Sataniese ritueel’: Theologo se saak uitgestel
‘Sataniese ritueel’: Kirsty is twee keer gewurg
‘Sataniese ritueel’: Theologo se aanvaller getuig
‘Sataniese ritueel’: “Ek is nie die dier nie”
‘Sataniese ritueel’: Meisie wis glo niks van moordplanne
‘Sataniese ritueel’: Getuienis bevraagteken
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer is “braaivleis” genoem 
‘Sataniese ritueel’: Kirsty was glo “prostituut” van die Bybel
‘Sataniese ritueel’: Bloed op ‘n brandende Bybel gestort
‘Sataniese ritueel’: Skokkende onthullings
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer wou letsels in hof wys
‘Sataniese ritueel’: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.