Lester Moody wat aan ‘n beweerde sataniese ritueel deelgeneem het, sê frases is glo in dreunsang herhaal voordat Theologo en die vriendin aan die brand gesteek is.
Haar vermeende moordenaars het glo by die punte van ‘n sataniese ster, waar kerse gebrand is, gestaan, het Moody Woensdag aan die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof, gesê. In die middel van die ster was ‘n brandende Bybel, waar bloed glo gestort sou word.
Moody en Jeremy King het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan in ‘n poging om ‘n korter vonnis te ontvang nadat hulle skuldig gepleit het op die misdaad. Hy getuig tans in die hofsaak teen Lindon Wagner, Robin Harwood, Harvey Isha en Courtney Daniels.
Al vier die beskuldigdes het onskuldig gepleit op aanklag van moord, poging tot moord, en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig. Kirsty Theologo was 18 jaar oud toe sy op 21 Oktober 2011 op ‘n koppie agter die Linmeyer-swembad in Juliusstraat, Johannesburg, aan die brand gesteek is nadat petrol oor haar uitgegooi is. Sy het ‘n week later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar wonde beswyk. Haar vriendin, wat tydens die voorval 14 jaar oud was, het die aanval oorleef.
Moody sê hy, King en die ander het frases, wat deur Wagner opgestel is, gelees terwyl hulle by die ster gestaan het. “Ek kan slegs die laaste paar woorde onthou. Dit was “peer in the star, and show us who you are” [loer in die ster, en wys ons wie jy is]. Hulle het die frase drie keer herhaal, en toe hul wense vir mag, wysheid, roem en rykdom, uitgespreek.
Wagner het sy hand glo met ‘n mes gesny en bloed op die brandende Bybel gedrup. Die mes is toe aan Daniels oorhandig, maar sy was te bang om haarself te sny, en het Wagner gevra om haar hand te sny.
Theologo het glo sowat 11 treë van hulle af weggestaan. Isha, wat nie aan die ritueel deelgeneem het nie, het oor haar wag gehou, omdat hy nie veronderstel was om daar te wees nie, het Moody getuig. “Harvey het toe vir Lindon gesê: ‘Kirsty is besig om by te kom,’” het Moody gesê. Wagner het toe na Theologo toe gehardloop en petrol oor haar uitgegooi. “Hy het vlamme gesien,” het hy gesê.
“Mens slaan nie net aan die brand as petrol oor jou uitgegooi word nie,” het regter Geraldine Borchers gesê. “Hy het ‘n geweer-aansteker gehad. Hy het haar aan die brand gesteek,” het Moody gesê. Hy het aan die hof gesê Theologo het begin skree.
Wagner is toe glo na Theologo se vriendin, wat agter ‘n boom haar bewussyn verloor het. “Hy het haar ook aan die brand gesteek.” Die groep het toe glo weggehardloop.
“Ek het nie teruggekyk nie. Toe ek verder weggegaan het, kon ek nie meer die geskree hoor nie,” het Moody gesê. “Hulle sou skree en dan stilbly en dan weer begin skree totdat ons hulle nie meer kon hoor nie.”
“Hoekom het jy weggehardloop?” wou Borchers weet. “Omdat hulle aan die brand was. Dis hoekom,” het Moody geantwoord. “Maar julle het dit beplan,” het Borchers gevra. “Ja,” het hy gesê.
Moody wou glo na die toneel terugkeer om ‘n selfoon te gaan haal.
“Ek wou dit vir dwelmmiddels verkoop,” het Moody gesê. Hy sê die selfoon het aan een van die meisies, wat tydens die ritueel aan die brand gesteek is, behoort.
Moody sê hy het van die koppie weggehardloop toe hy Theologo en haar vriendin aan die brand gesien het. Hy het slegs gesien hoe Wagner saam met hom hardloop. Wagner het glo petrol oor die meisies uitgegooi en hulle aan die brand gesteek. Moody het aan die hof gesê Theologo het voor die voorval iets vir hom gesê. “Ek kon haar nie regtig hoor nie, maar in ‘n latere stadium het sy kans gehad om te sê sy vertrou my. Sy het my in die oë gekyk.”
Moody sê terwyl hy en Wagner teen die koppie af gehardloop het, voordat hulle weer by die res van die groep aangesluit het, het hy sy mes in die eerste stormwaterpyp, wat hy gesien het, gegooi.
Hy het toe aan die groep voorgestel dat hulle die selfoon gaan haal. Hulle het nie saamgestem nie. Hulle het bespreek hoe Daniels die sny aan haar hand, wat sy tydens die ritueel opgedoen het, aan haar ma gaan verduidelik. Hulle het ingestem dat sy aan haar ma sal sê dat sy deur ‘n grypdief oorval is en dat sy haar hand gesny het toe sy die mes wou keer. Moody sê die groep het die volgende dag weer bymekaar gekom. Wagner het voorgestel dat hulle Isha vir alles sou blameer.
Moody het vroeër aan die hof gesê dat Isha nie deel sou wees van die ritueel nie. Isha het eers die oggend van 21 Oktober van die ritueel uitgevind. Hy sê Wagner het voorgestel dat Isha na sy land van oorsprong moet terugkeer voordat die owerhede hom begin soek. Moody sê hy kan nie onthou of Isha teenwoordig was toe dié voorstel gemaak is nie.
Moody en Jeremy King het hulself Maandag, 24 Oktober, aan die polisie oorgegee. Hulle het uitgevind die polisie is op hul spoor.
Die saak duur voort.
Lees ook:
Sataniese ritueel: Skokkende onthullings
Sataniese ritueel: Slagoffer wou letsels in hof wys
Sataniese ritueel: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’