Lester Moody, wat skuld op Kirsty Theologo se moord in ‘n beweerde sataniese ritueel beken het, is Vrydag in die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof van teenstrydige getuienis beskuldig.
“Jy voeg inligting tot jou getuienis by. Wanneer jy in ‘n hoek gedryf word, verander jy jou getuienis,” het Enrico Guarneri, advokaat vir die verdediging, aan Moody gesê. Moody getuig teen vier mense wat daarvan beskuldig word dat hulle Theologo en haar 14-jarige vriendin op 21 Oktober 2011 aan die brand gesteek het. Die 18-jarige Theologo is op ‘n koppie agter die Linmeyer-swembad aan die suide van Johannesburg aan die brand gesteek nadat petrol oor haar uitgegooi is. Sy het ‘n week later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar beserings beswyk. Haar vriendin het ook gebrand, maar het die voorval oorleef.
Lindon Wagner, Robin Harwood, Harvey Isha en Courtney Daniels het onskuldig gepleit op aanklag van moord, poging tot moord, en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.
Moody en Jeremy King het altwee ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is tot 17 jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is, gevonnis op voorwaarde dat hulle teen die ander sou getuig.
Guarneri, vir Daniels, het Moody gevra waarom die groep sy kliënt gevra het om Theologo te oortuig om saam met hulle na ‘n partytjie toe te gaan as hy [Moody] nader aan haar was. Theologo het gedink sy gaan die Vrydagaand na ‘n partytjie toe en was nie daarvan bewus dat hulle haar in ‘n ritueel sou offer nie. Moody het gesê hulle het vir Daniels gevra om met Theologo te praat omdat hulle altwee meisies was en mekaar vertrou het. “Maar julle [Moody en Theologo] was beter vriende?” het Guarneri gesê. “Courtney [Daniels] sou eerder vir Kirsty [Theologo] kon oorreed. Miskien sou Kirsty nie gemaklik saam met ons klomp seuns wees nie,” het Moody gesê.
Regter Geraldine Borchers het aan Moody gesê: “Maar jy het gesê sy was ‘n meisie onder ‘n klomp seuns.” Moody het dit ontken en gesê Theologo se vriendin, wat oorleef het, was altyd saam met haar. Guarneri het Moody herinner dat hy aan die hof gesê het Theologo sou in die week alkohol drink en dagga rook saam die seuns en dat haar vriendin gewoonlik net naweke saam met hulle gekuier het. Hy het Moody gevra waarom Daniels versoek is om met Theologo te praat as sy [Daniels] in ‘n romantiese verhouding met Theologo se eks-kêrel was.
Wagner se broer was glo ‘n maand en ‘n half vantevore in ‘n verhouding met Theologo betrokke voordat hy en Daniels in ‘n verhouding betrokke geraak het. Die hof het gehoor dat Moody en Theologo ook in ‘n stadium in ‘n romantiese verhouding was. Moody sê dat dit in daardie stadium nie gelyk het of daar “enige probleme” was tussen Daniels en Theologo nie.
Guarneri het hom gevra oor die vergadering wat die dag voor die ritueel gehou is. Moody het vroeër aan die hof gesê dat sekere items vir die ritueel benodig is. Guarneri het hom gevra wat Daniels moes gebring het.
Hy het aan Moody gesê dat dít wat in sy geskrewe verklaring staan teenstrydig is met sy getuienis in die hof. In die verklaring het Moody gesê Daniels moes kerse vir die sataniese ster, tou, ‘n Bybel en remvloeistof bring. In die hof het Moody gesê hy het die remvloeistof gebring. Guarneri het toe vir Moody gevra of sy verklaring ‘n leuen was. “Dis ‘n fout, nie ‘n leuen nie,” het Moody gesê.
Toe Guarneri verdere ‘foute’ in Moody se verklaring en hofgetuienis uitgewys het, het Moody gesê Guarneri se vrae verwar hom. “Ek kan nie alles onthou vir alle vrae wat jy my nou vra nie. Dit verwar my. Jy is regtig besig om my deurmekaar te maak,” het Moody gesê. “Wel, as jy aanhou om só te antwoord, gaan ek aanvoer dat jy ontwykend is,” het Guarneri gesê.
Die saak duur voort.
Lees ook:
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer is “braaivleis” genoem
‘Sataniese ritueel’: Kirsty was glo “prostituut” van die Bybel
‘Sataniese ritueel’: Bloed op ‘n brandende Bybel gestort
Sataniese ritueel: Skokkende onthullings
Sataniese ritueel: Slagoffer wou letsels in hof wys
Sataniese ritueel: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’