Daar is glo na Kirsty Theologo as “braaivleis” verwys toe haar moord in ʼn beweerde sataniese ritueel beplan is.
Theologo was teenwoordig toe dit gebeur het, het Lester Moody, wat skuld op die moord beken het, Vrydag in die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof getuig.
Moody sê dié kodewoord is die Donderdag voor die noodlottige ritueel op 21 Oktober 2011 tydens ʼn vergadering gebruik. Die vergadering is gereël om die besonderhede van haar moord te bespreek.
Moody, wat ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, getuig tans teen Lindon Wagner, Robin Harwood, Harvey Isha en Courtney Daniels. Hy is tot 17 jaar tronkstraf, waarvan vyf opgeskort is, gevonnis vir sy rol in die moord. Die vier beskuldigdes het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.
Die 18-jarige Theologo is op ʼn koppie agter die Linmeyer-swembad aan die suide van Johannesburg aan die brand gesteek nadat petrol oor haar uitgegooi is. Sy het ʼn week later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar wonde beswyk. Haar vriendin het ook gebrand, maar het die aanval oorleef.
Regter Geraldine Borchers wou Vrydag by Moody weet hoe die groep die moord in die slagoffer se teenwoordigheid kon bespreek. Hy het gesê hulle het in kodetaal gepraat. “Daar was ʼn manier om met haar daaroor te praat…” het hy bygevoeg. Die hof het gehoor Theologo is ingelig dat daar ʼn braai gaan wees en dat sy uitgenooi is. Moody sê dat, alhoewel Theologo gesê het sy moet geoffer word, die groep haar nie meegedeel het dat hulle beplan om haar die volgende dag te offer nie.
Moody het Donderdag gesê hy het sy gevoelens van berou tydens die ritueel ignoreer. “Hoe lank nadat jy ná die ritueel weggehardloop het, het jy jammer begin voel?” wou Enrico Guarneri, advokaat vir die verdediging, gevra. “Vandat sy gesê het sy vertrou my,” het Moody geantwoord.
Moody het Woensdag gesê Theologo het vir hom gesê sy vertrou hom.
“Was dit berou toe jy haar wou gaan “doodmaak”? het Guarneri gevra. Moody het vroeër gesê hy wou na die koppie teruggaan om ʼn selfoon te gaan haal, en nie om Theologo te gaan doodmaak nie. Hy het aan die hof gesê Wagner het gesê hy wil teruggaan om haar te gaan doodmaak.
Borchers wou by Moody weet of hy sou teruggaan om Theologo te gaan doodmaak en om die selfoon te gaan haal. “Ja,” het hy geantwoord. “Maar hoe berouvol is dit?” het sy gevra. “Dis nie dat ek nie skuldig gevoel het nie. Toe sy met ʼn klip getref is, was dit te laat om om te draai.” Moody het gesê Wagner het Theologo met ʼn groot klip geslaan, maar Harwood het hom gevra om daarmee op te hou.
Moody sê Wagner het sy mes uitgehaal en in ʼn aanvalsposisie gehou en aan Harwood gesê: “Dis te laat om dit nou te stop.”
Hy het vroeër aan die hof gesê dat die ritueel aanvanklik op Openbaring 17 baseer is. Hy sê ʼn sataniese ster is die dag voor die ritueel bygevoeg. Dit was Daniels se idee om dit in te sluit en die groep het ingestem. “Die idee dat ons ons hande sou sny was Lindon se idee,” het Moody gesê.
Die saak duur voort.
Lees ook:
‘Sataniese ritueel’: Kirsty was glo “prostituut” van die Bybel
‘Sataniese ritueel’: Bloed op ‘n brandende Bybel gestort
Sataniese ritueel: Skokkende onthullings
Sataniese ritueel: Slagoffer wou letsels in hof wys
Sataniese ritueel: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’