Die slagoffer van ‘n beweerde sataniese ritueel is Vrydag van die geleentheid ontsê om haar letsels aan haar vermeende aanvallers te wys.
Die meisie het brandwonde aan haar nek tot by haar ken, en oor haar rug gehad. Sy is eers in die hospitaal behandel voordat sy na ‘n rehabilitasie-sentrum geneem is. Die brandwonde was van so aard dat sy vir bykans vier maande lank nie kon bad nie.
Sy getuig in die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof in die saak teen Lindon Wagner, Robin Harwood, Harvey Isha en Courtney Daniels. Hulle het onskuldig gepleit op klagtes van moord, poging tot moord, en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig. Die meisie en Kirsty Theologo (18) is in Oktober 2011 op ‘n koppie agter die Linmeyer-swembad aan die suide van Johannesburg aan die brand gesteek nadat petrol oor hulle uitgegooi is. Die meisie, wat ten tye van die aanval 14 jaar oud was, het die aanval oorleef. Theologo het ‘n week later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar beserings beswyk.
Die hofverrigtinge is Vrydag vlugtig onderbreek nadat die kruisverhoor van die regter irriteer het. Advokaat Enrico Guarneri, wat Daniels verteenwoordig, het die oorlewende slagoffer ondervra toe regter Geraldine Borchers van mening was dat hy haar onnodiglik versoek om haarself te herhaal.
Guarneri het haar uitgevra oor ‘n verklaring wat sy afgelê het rakende die oploop tot die vermeende ritueel. Sy het verduidelik hoe sy en Theologo saam met die verdagtes teen die koppie op geloop het. Oppad het van die verdagtes glo in klein groepies verdeel en privaat met mekaar gesels. Guarneri het die meisie weer gevra wie saam met wie gestap het. Borchers het hom onderbreek, en wou weet wat die punt van sy vrae is, aangesien die meisie dit vantevore tydens die hofsaak reeds geantwoord het. Hy het aangevoer hy is geregtig om dié vrae aan haar te stel om te verseker dat haar vorige verklarings, wat sy kliënt raak, nie foutief is nie. “Dit is sinloos. Dink daaroor. Waar gaan dit jou kry?” het Borchers gevra. Die hof het hierna vir ‘n paar minute verdaag.
Toe die kruisverhoor hervat is, en Guarneri met kruisverhoor voortgegaan het, het Borchers hom weer onderbreek. Sy het gesê sy ervaar sy metode van kruisverhoor ‘n mors van tyd, aangesien die meisie reeds vantevore tydens die verhoor dieselfde vrae beantwoord het.
Guarneri het haar hierna gevra waar presies sy kliënt, Daniels, haar bevind het toe die vuur aangesteek is. Die meisie het gesê sy het vergeet om sekere feite oor die saak in ‘n verklaring aan die polisie bekend te maak. “In die hospitaal was ek op morfien en ek onthou nou baie meer as wat ek in die hospitaal kon onthou het,” het sy getuig.
Dokters het haar morfien teen die pyn van haar brandwonde toegedien.
“In jou getuienis sê jy dat Courtney en Lester [Moody] die vuur aangesteek het, maar in jou verklaring het jy gesê dat Lester en die ander seuns die vuur gemaak het, nie Courtney nie,” het Guarneri gevra.
Moody en Jeremy King, beide 18 jaar oud, het vroeër ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Beide is tot 17 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf opgeskort is.
“Ek weet ek het dit gesê, maar ek kan verkeerd wees,” het sy geantwoord.
Guarneri wou gevolglik by die meisie hoor of iemand, nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, inligting oor die aanval gegee het. “Stem jy saam dat jou getuienis ná rehabilitasie en ná jou behandeling, moontlik beïnvloed kan wees deur dinge wat jy gehoor het?”
Die prokureur het verwys na beweringe dat die twee meisies op die koppie remvloeistof gegee is om te drink. Hy wou weet of die vloeistof, wat sy sê haar duiselig laat voel het en vreemd geproe het, remvloeistof was en of sy vir die eerste keer daarvan te hore gekom het in verband met die saak. “Omdat ek baie dinge gehoor het, het ek baie dinge begin onthou. In die hospitaal was ek bekommerd oor myself,” het sy gesê.
Ná die kruisverhoor wou die meisie weet of sy haar letsels aan die vermeende aanvallers mag wys. “Kan ek vir hulle wys wat hulle aan my gedoen het,” het sy gevra toe sy haar serp begin wegtrek het. Regter Borchers het haar egter die geleentheid ontsê en aangevoer dat ‘n foto voldoende sal wees. “Ek verstaan, maar dit sal nie behoorlik wees nie,” het sy gesê.
Die verhoor duur voort.
Lees ook:
Sataniese ritueel: Kirsty wou geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’