‘Sataniese-ritueel’: Slotbetoë word gelewer

Kirsty Theologo

Kirsty Theologo

Daar is geen wetenskaplike bewys dat remvloeistof iemand gedisoriënteerd kan laat voel indien dit ingeneem word nie, het die Johannesburgse hooggeregshofsitting in Palm Ridge Maandag gehoor.

Só sê die prokureur wat Courtney Daniels, een van die vier mense wat van die moord op Kirsty Theologo in Johannesburg in 2011 beskuldig word, verdedig.

Daar is beweer dat Theologo (18) en haar 14-jarige vriendin alkohol met remvloeistof ingekry het voordat hulle in Oktober 2011 op ʼn koppie in Linmeyer tydens ʼn beweerde sataniese ritueel aangerand en aan die brand gesteek is.

Enrico Guarneri, vir Daniels, het aan die hof gesê daar is geen bewyse dat Theologo of haar vriendin ooit mediese behandeling ontvang het nadat hulle die vloeistof ingekry het nie.

Theologo het ʼn week ná die aanval in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Haar vriendin het oorleef.

Daniels, Lindon Wagner, Harvey Isha en Robin Harwood staan tereg op die moord en ʼn aanklag van poging tot moord.

Wagner, wat glo die meesterbrein van die moordkomplot was, het gesê remvloeistof het dieselfde uitwerking as die dwelmmiddel wat gebruik word wanneer meisies tydens ʼn afspraak verkrag word. Hy het gesê remvloeistof is die dag van die ritueel na die koppie toe gevat. Na bewering het Daniels die remvloeistof in die alkohol gegooi.

Die hof het aangehoor dat Daniels slegs ʼn paar dae voor die ritueel genooi is om deel te neem.

Guarneri sê sy kliënt was vantevore al nuuskierig en het nie gedink haar medebeskuldigdes was ernstig dat hulle Theologo wou vermoor nie. “Sy was meer naïef,” het hy in sy slotbetoog gesê.

Hy het die hof versoek om in ag te neem dat Daniels maar 16 jaar oud was toe die misdaad gepleeg is.

Guarneri sal na verwagting Dinsdag sy slotbetoog afhandel.

Gail Sidwell, vir Harwood, het in haar slotbetoog gesê dat hy te bang was om te onttrek, aangesien hy Wagner gevrees het. “Hy kon nie net weggaan nie. Daar was Lindon met ʼn mes, en hy het sopas gesien hoe Kirsty gestenig word,” het sy gesê. “Hy het ʼn opregte poging aangewend om homself te distansieer om Kirsty nie te beseer nie.”

Sy het tydens vorige hofverrigtinge gesê dat Harwood en Theologo vlugtig in ʼn verhouding was. “Toe hulle van die koppie afkom, kon hy nie glo wat gebeur het en wat hulle gedoen het nie,” het Sidwell gesê.

Die groep het glo beplan om Theologo te offer as deel van ʼn ritueel om hulle siele te verkoop. Hulle het geglo Theologo is die prostituut waarvan die Bybel praat en dat sy geoffer moet word om die Dier, waarna die boek Openbaring verwys, te laat herleef.

Isha het gesê hy het geen rol gespeel in die aanval nie. Hy het aan die hof gesê hy het gevries en van agter ʼn boom gekyk hoe die aanval uitgevoer word.

Besonderhede van die aanval het ʼn paar weke gelede tydens Wagner se getuienis aan die lig gekom. Hy het aan die hof gesê dat hy Theologo herhaaldelik met ʼn klip oor die kop geslaan, petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het. Hy sê hy het gehoop om mag te bekom as hy sy siel verkoop.

Hy en die ander beskuldigdes het ʼn Bybel verbrand en hul bloed in die vlamme gedrup, maar niks het gebeur nie.

Wagner het aan die hof gesê “iets het oor hom gekom” toe hy aan die ritueel deelgeneem het.

Hy het gesê hy het Theologo liefgehad en dat hulle goeie vriende was.

Familielede van die beskuldigdes en sommige van Theologo se familielede was Maandag in die hof. Theologo se gesin het gesê hulle is dankbaar die hofsaak is byna afgehandel.

Ná die hofverrigtinge het Isha se ma al die beskuldigdes omhels voordat hulle na die aanhoudingselle teruggeneem is.

Isha, Harwood en Wagner is sedert 2011 in aanhouding. Daniels is onder haar ouers se toesig vrygelaat.

Twee ander mans, Jeremy King en Lester Moody het vroeër skuld erken op die moord. Hulle is elk tot 17 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is.

Lees ook:
‘Sataniese ritueel’: Meesterbrein glo “emosioneel onvolwasse”
‘Sataniese ritueel’: Beskuldigde het glo God gevind
‘Sataniese ritueel’: Hof hoor hulle wou siele verkoop
‘Sataniese ritueel’: Regter siek, saak uitgestel
‘Sataniese ritueel’: Beskuldigde het mag gesoek
‘Sataniese ritueel’: Getuienis bevraagteken
‘Sataniese ritueel’: Theologo se saak uitgestel
‘Sataniese ritueel’: Kirsty is twee keer gewurg
‘Sataniese ritueel’: Theologo se aanvaller getuig
‘Sataniese ritueel’: “Ek is nie die dier nie”
‘Sataniese ritueel’: Meisie wis glo niks van moordplanne
‘Sataniese ritueel’: Getuienis bevraagteken
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer is “braaivleis” genoem 
‘Sataniese ritueel’: Kirsty was glo “prostituut” van die Bybel
‘Sataniese ritueel’: Bloed op ‘n brandende Bybel gestort
‘Sataniese ritueel’: Skokkende onthullings
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer wou letsels in hof wys
‘Sataniese ritueel’: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.