SAUK swyg oor Zuma-uitjouery

Pres. Jacob Zuma by die gedenkdiens Foto: Skermskoot van regstreekse uitsending van eNCA

Pres. Jacob Zuma by die gedenkdiens Foto: Skermskoot van regstreekse uitsending van eNCA

Terwyl media wêreldwyd die uitjouery uitgesaai het wat pres. Jacob Zuma Dinsdag tydens die gedenkdiens van oud-pres. Nelson Mandela in die ENB-stadion in Soweto te beurt geval het, het die SAUK glo besluit om hieroor te swyg in sy hoofnuusbulletins, het die City Press Woensdag berig.

City Press berig hulle het van ses onafhanklike bronne binne die SAUK verneem dat die nasionale uitsaaier se nuusspan verskeie opdragte ontvang het om nie die uitjou-voorvalle uit te saai nie. Die bronne, wat strek van joernaliste wat by die stadion was, tot tegniese spanlede wil nie hul identiteite bekend maak nie uit vrees dat hulle werk in gedrang kan kom.

Daar is glo voor die gedenkdiens ʼn vergadering gehou waarin besluit is om die uitsending van enige voorval wat die ANC se leierskap kan verneder, te vermy.

Die voorval is egter op die uitsaaier se webwerf genoem en hulle het daaroor getwiet. Hulle het glo ook op hul 24-uur nuuskanaal, ná spitstyd, daarvan melding gemaak.

Kaizer Kganyago, die SAUK se woordvoerder, was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Lees meer hier.

Maroela Media het Dinsdag berig sowat twee ure ná die uitjouery het Google reeds bykans 5 miljoen trefslae daaroor geregistreer.

Die eerste vlaag nuus hieroor het die wêreld getref toe Zuma se gesig aanvanklik op die groot skerm verskyn, en ‘n deel van die skare hom luidkeels begin uitjou het. Van die roubeklaers het ook ʼn rolbeweging met hul hande gemaak soos wanneer ‘n sokkerspeler tydens spel vervang word. Robert Mugabe, oud-pres. FW de Klerk, oud-pres. Thabo Mbeki en Winnie Madikizela-Mandela is egter toegejuig toe hul gesigte op die groot skerms vertoon is.

Lees ook:
Nuuskommentaar: Zuma en Mandela en die varkpakke
ANC: ‘Uitjouery het SA ‘n oneer aangedoen’
Zuma-uitjouery wêreldnuus
Mandela-diens: Zuma uitgejou

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Die SAUK onder die duim van die ANC maak hulle so belaglik deur nie die uitjouery uit te saai nie, die wereldmedia, waaronder SKY-News het dit oor-en-oor uitgesaai en daarna verwys. Dit is darem verskriklik dat die ANC soveel druk op die SAUK kan uitoefen. Miljoene mense wereldwyd het dit in elkgeval tydens die uitsending van die diens gehoor en gesien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.