SAUK verbied advertensie wat ANC in slegte lig stel

SABC3 het AfriForum meegedeel dat ’n video van dié burgerregte-organisasie as betaalde advertensie op hierdie kanaal verbied word omdat dit volgens hulle die ANC in ’n slegte lig stel.

In hul antwoord aan AfriForum het SABC3 laat weet dat die video te negatief oor die ANC is en dat hulle nie materiaal mag uitsaai wat enige politieke party in ’n slegte lig stel nie.

Die video, getiteld ANC, the conmen, handel oor die gerugte dat die ANC fundamentele wysigings aan die Grondwet wil aanbring sodat die party deur middel van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) ’n “tweede oorgangsfase” in Suid-Afrika kan teweegbring. Daar is veral sprake dat die reg op privaatbesit van eiendom (artikel 25 van die Grondwet) geskrap of drasties gewysig moet word ten einde ’n “aggressiewe” program van grondonteiening in te stel. Luidens die ANC se beleidsdokumente moet die NDR deur die uitoefening van staatsmag van stapel gestuur word.

Die video bevat verskeie uittreksels van onlangse ANC-besprekingsdokumente en moedig Suid-Afrikaners aan om ’n petisie te teken. Die video en petisie is opgestel om die publiek bewus te maak van die inhoud van die ANC se beleidsdokumente.

Volgens Ernst Roets, die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die organisasie teleurgesteld met SABC3 se besluit, maar dit sal hom nie verhoed om met sy bewusmakingsveldtog oor die implikasies van die NDR voort te gaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.