SAUK verbied Nando’s-advertensie

Die SAUK weier om Nando’s se nuutste advertensie uit te saai omdat dit xenofobiese ondertone bevat.

Nando’s wat bekend is vir hul omstrede advertensies het weer die nuus gehaal met hul nuutste advertensie wat die gek skeer met xenofobie. Verlede jaar was hulle in die spervuur oor ʼn advertensie waarin die Zimbabwiese president Robert Mugabe uitgebeeld word as “die laaste oorblywende diktator”. Hulle het self hul advertensie van die lug gehaal na die veiligheid van Nando’s se personeel en kliënte in Zimbabwe in gevaar gestel is.

Die nuwe minuut-lange advertensie wys hoe verskeie mense van verskillende nasionaliteite in ʼn rookwolk verdwyn. Dit eindig met ʼn Khoisan man wat oorbly en sê: “Ek gaan nêrens heen nie, julle het ons ****** hier gekry.”

Die maatskappy het in ʼn verklaring gesê dit is nie hul intensie om enigiemand of kultuurgroep te ontstel of minag te toon nie. Hulle wil eerder gesprekke aanhits om empatie te koester sodat Suid-Afrikaners krities na dié kwessie kyk. Hulle sê voorts hulle wil mense aanmoedig om teen vooroordeel te staan en die verskeie kulture van die land te aanvaar.

Die SAUK het laat weet hulle gaan nie die advertensie toelaat nie. Die Cape Times berig die SAUK sou dit Donderdagaand vir die eerste keer adverteer, maar dit is weens “xenofobiese ondertone” ontrek. Die SAUK het Nando’s laat weet dat dit teenstrydig met die uitsaai-standaarde is.

Kaizer Kganyago, die SAUK se woordvoerder, het gesê die advertensie kan aanvalle op buitelanders aanhits. “Ons verstaan Nando’s wil diversiteit aanmoedig, maar ons is bekommerd dat die publiek die advertensie anders gaan interpreteer.”

Sien die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudie ·

Phillip Bruwer skryf hierbo: “Hulle sê voorts hulle wil mense aanmoedig om teen vooroordeling te staan en die verskeie kulture van die land te aanvaar.” Sover ek kon vasstel bestaan daar nie ‘n woord soos “vooroordeling” nie. Ek dink die sin behoort eintlik te wees: “Hulle sê voorts hulle wil mense aanmoedig om vooroordeel teen te staan en die verskeie kulture van die land te aanvaar.” Of: “Hulle sê voorts hulle wil mense aanmoedig om vooroordeel teen te staan en die verskeie kulture van die land te aanvaar.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.