SAWD: ‘Irina dalk nie so erg’

Die Twitter-gebruiker @mstauber het die foto van Xai Xai in Mosambiek opgelaai.

Die tropiese storm, Irina, wat na verwagting die naweek die noordkus van KwaZulu-Natal sal tref, sal nie so erg wees as wat aanvanklik verwag is nie, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) gesê.

“Daar is geen aanduiding dat die storm binne die volgende vyf dae aan wal sal gaan nie,” sê ʼn woordvoerder van die SAWD, Hannlee Doubell. Sy sê die oog van die storm beweeg ooswaarts in die rigting van die oseaan en sal na verwagting nie na aan wal gaan in Richardsbaai nie. “Weens die storm se posisie in verhouding met die kuslyn sal dit steeds swaar reën veroorsaak oor die suidelike deel van Mosambiek, Swaziland, Mpumalanga, en die ooskus van Suid-Afrika wat kitsvloede in die areas tot gevolg kan hê.” Sy sê die storm kan golwe van 4 tot 6 meter tot gevolg hê van Richardsbaai tot Maputo. Rampbestuur spanne is intussen op gereedheidsgrondslag geplaas in KwaZulu-Natal. Irina sal na verwagting Sondagmiddag aan wal gaan suid van die Maputo. Irina sal na verwagting oor Swaziland beweeg terwyl dele van noordelike KwaZulu-Natal ook geraak sal word. Irina sal na verwagting winde van tot 111km/h oplewer.

Die SAWD het vroeër gesê areas wat veral in gevaar kan wees is die suidkus en aangrensende binneland van Mosambiek, die kus aan Maputaland sowel as die aangrensende binneland van die verre noord-ooste van KwaZulu-Natal. Kosibaai, St. Lucia en Richardsbaai val dus in die hoë-risiko area. Die SAWD sê die areas kan reënval van tussen 300 en 400mm kry oor 2 tot 3 dae. Die SAWD sê dis reënval van ʼn “uiterste en buitengewone aard” wat laas in 1984 gesien is nadat die tropiese storm Domoina die gebied getref het. Die SAWD het gewaarsku dat kitsvloede kan voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.