Mark Simpson, hoof uitvoerende beampte van Seacom, sê die beskadigde ondersese datakabels sal moontlik binne die volgende week herstel word, maar hulle ervaar steeds uitdagings met hersteldienste.
“Afrika, die Middel-Ooste en Asië word steeds deur die skade aan die veelvoudige kabelstelsel beïnvloed,” het Simpson gesê. “Ek besef dat talle gebruikers wil weet wat die onderbreking in internetkonnektiwiteit veroorsaak het. Dit is ‘n fisiese kabel wat ‘n aantal kilometer noord van die kus van Egipte in die Middellandse See afgesny is. Ons sal moontlik eers weet wat die kabel gesny het wanneer die beskadigde deel, binne die volgende week of twee opgegrawe is en ondersoek kan word.”
Volgens Simpson vermoed hulle, gebaseer op hul ondervinding met ondersese datastelsels en die aard van die seegebied waar die kabel geknip is, dat ‘n groot vaartuig vermoedelik sy anker op die seebodem gesleep het. “Dit bly ongelukkig wêreldwyd ‘n algemene oorsaak vir skade aan ondersese kabels, ondanks ons pogings om die kabel te begrawe, in beskermingsomhulsels te plaas, kennisgewings aan skepe oor die ligging van kabels en uitsluitingsones.”
“Die proses om die kabel te herstel is egter moeiliker en neem nou langer as wat ons aanvanklik verwag het,” het Simpson verduidelik. “Ons poog egter om so gou as moontlik die kabel weer te aktiveer deur pogings om die kabel te herstel te prioritiseer. Ons vra om verskoning vir die ongerief wat dit vir verbruikers veroorsaak.”
Seacom se ondersese veseloptiese-kabel is op 23 Julie 2009 bekendgestel. Die kabelnetwerk verbind Suid-Afrika en Oos-Afrika direk met Europa en Suidelike Asië en strek oor sowat 17 000km. Volledige bandwydte kan nou aan dié lande verskaf word weens die netwerk se vaardighede, kapasiteit en omvattende dekking.
DANKIE VIR DIE NUUS WAARDEER DIT OPREG,,