Seacom-kabel nog steeds nie herstel nie

Seacom veseloptiese-kabel Foto: Seacom

Die kabelmaatskappy Seacom doen steeds herstelwerk aan die beskadigde ondersese kabel wat internetdienste onderbreek het.

Internetdiensverskaffers het al sedert 22 Maart onderbrekings in hul stelsels aangemeld en Seacom moes die onderbreekte lyne herlei. Internasionale internetkonnektiwiteit tussen Sub-Sahara Afrika en Europa is grootliks beïnvloed.

Seacom het in ‘n verklaring op sy webwerf aangedui hy is in die proses om transmissie na betrokke kliënte te herstel. “Ons vra weereens om verskoning vir die kliënte wat nog steeds deur die probleem geraak word,” het Seacom gesê. Volgens Seacom is daar kliënte wat deur die verdere probleem op die herstelsisteem SMW4 geraak word.

Die maatskappy het vroeër in die week bevestig dat hy berigte ontvang het dat drie mense in Egipte in hegtenis geneem is nadat die kabels geknip is. Seacom sê hy glo nie die oorspronklike onderbreking was sabotasie nie. “Ons dink dit is onwaarskynlik dat die skade aan ons stelsel deur sabotasie veroorsaak is. Die redes hiervoor is die spesifieke ligging, afstand van die kuslyn, diepte, en die teenwoordigheid van ‘n reuse geankerde vaartuig op die plek waar die kabel afgesny is,” het Seacom gesê.

Die voorval word steeds ondersoek. Seacom sê volle transmissie sal moontlik vroeg in April beskikbaar wees.

Maroela Media het vroeër berig Seacom vermoed ‘n vaartuig se anker het die kabel beskadig. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.