Section27 tevrede met handboekaflewering

Die burgerregtegroep Section27 het Woensdag aangedui hy is tevrede met die aflewering van handboeke en werkboeke aan skole in Limpopo.

“Meeste skole in Limpopo, wat voor die 2012- akademiese jaar geen handboeke ontvang het nie, het reeds hul handboeke en werkboeke vir 2013 ontvang,” het die groep in ‘n verklaring gesê. Alhoewel die aflewering nog nie afgehandel is nie, het Section27 die departement van basiese onderwys geloof vir die verspreiding van die boeke.

Die groep het ook gesê dat sommige skole aangedui het dat hulle egter nog nie al die handboeke en werkboeke ontvang het nie. “Hierdie skole het dit direk by die departement opgevolg en is verseker dat die uitstaande handboeke teen die einde van dié week afgelewer sal word.”

Die departement het Dinsdag gesê dat ten minste 98% van handboeke voor die aanvangs van die 2013 skooljaar aan binnelandse skole afgelewer is. Die akademiese jaar vir binnelandse skole in Gauteng, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes het Woensdag begin.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, is in 2012 gekritiseer nadat talle skole in Limpopo nie betyds hul handboeke ontvang het nie. Sommige skole het selfs in Augustus nog nie hul handboeke ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.