Seekoei wat man aanval gevang

Die seekoei wat verlede Donderdag vir Anthony Swatton, ʼn werknemer van die Ezemvelo KZN-wildreservaat, by sy huis in St. Lucia gebyt het, is gevang.

Swatton is Donderdagaand deur die groot seekoeibul aangeval toe hy uitgegaan het om te sien waarom sy hond blaf. Die dier was moontlik verras deur Swatton se teenwoordigheid en het hom in sy linkerbeen gebyt. ʼn Tand het ook Swatton se maag deurboor. Hy moes ná die aanval ʼn noodoperasie ondergaan en sy been is geamputeer.

Die seekoei het Maandag weer sy verskyning in Swatton se tuin gemaak en owerhede is in kennis gestel. Volgens ʼn woordvoerder van die iSimangaliso Vleilandpark, het wildsbewaarders die bul gevang en na die Hluhluwe-iMfolozi wildreservaat geneem.

Swatton is nog in ‘n ernstige toestand in die waakeenheid van die Bay-hospitaal in Richardsbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.