Seerower-gyselaars vandag terug in SA

Debbie Calitz en Bruni Pelizzari, die twee Suid-Afrikaners wat nagenoeg twee jaar lank deur Somaliese seerowers aan die suidooskus van Afrika as gyselaars aangehou is, word Woensdagoggend terug in die land verwag.
Die paartjie het Rome Dinsdagaand verlaat, en sal deur die minister van internasionale verhoudings en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, op die OR Tambo-lughawe ontvang word. Hulle sal vir ʼn paar dae in die president se huis in Pretoria bly sodat die owerhede soveel moontlik inligting oor hul tyd as gyselaars kan inwin.
Calitz en Pelizzari, oorspronklik van Durban, is op 26 Oktober 2010 deur seerowers ontvoer terwyl hulle aan die kus van Tanzanië met hul seiljag gevaar het. Hulle is verlede week vrygelaat ná ‘n gesamentlike operasie deur Suid-Afrika, Somalië en Italië. Die besonderhede van die vrylatingsooreenkoms is nog nie bekend nie.
Calitz se broer, Dale van der Merwe, het gesê die paartjie sal eers ‘n tyd lank saam met hul familie deurbring voordat ‘n media-inligtingsessie gehou gaan word.
Calitz se dogter, Kerri-Ann Cross wat in Pretoria woon, het in ʼn eksklusiewe onderhoud met Pretoria Rekord gesê sy is verlig dat die nagmerrie uiteindelik verby is. Cross voel dat die wêreld se gewig van haar skouers afgelig is en sien uit dat hulle lewe weer na normaal kan terugkeer, al het dié ervaring hul lewens onherroeplik verander. “Ons kan vir die eerste keer in byna twee jaar gelukkig wees sonder om bekommerd te wees of hulle honger of koud of in gevaar is,” het Cross gesê. Sy noem ook verder dat Calitz in die tydperk twee kleinkinders ryker geword het.
Cross vertel sy was oorstelp met emosies ná sy vir die eerste keer met haar ma gepraat het, kort nadat hulle vrygelaat is. “Ek het uitgebars van die lag en toe begin huil, dit was onvergeetlik.”
Sy was egter ontsteld om te sien hoe gehawend die paartjie tydens ‘n mediakonferensie in Mogadisjoe gelyk het. “Dit het my hart gebreek om hulle so uitgeteer en maer te sien. Maar die belangrikste is dat hulle lewe, nou wil ons net hulle lekker vet voer en bederf,” het sy gesê.
Die seerowers het aanvanklik sowat $10-miljoen as losprys vir die paartjie geëis. Volgens Van der Merwe is daar op die ou einde sowat $1-miljoen betaal, waarvan hul geldinsamelingfonds R1-miljoen bygedra het. Hulle kon nog nie vasstel vanwaar die uitstaande bedrag gekom het nie maar is dankbaar vir al die rolspelers se barmhartigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.