Seerower-gyselaars vertel oor 20 maande se aanhouding

Deborah Calitz en Bruno Pelizzari

Die Suid-Afrikaanse paartjie wat onlangs uit die hande van Somaliese seerowers gered is na twee jaar se aanhouding, is Woensdag tydens ʼn emosionele verwelkoming op die OR Tambo Internasionale Lughawe deur hul geliefdes en die publiek ontvang.

Deborah Calitz en Bruno Pelizzari is in Oktober 2010 deur 12 seerowers gevange geneem terwyl hulle met hul seiljag aan die kus van Kenia in die Indiese Oseaan gevaar het. Die paartjie is by Baraawe aan wal geneem en gevange gehou. Na ʼn gesamentlike poging deur die Somaliese en Italiaanse regerings is die twee verlede week, na 20 maande in aanhouding, bevry.

Tydens die perskonferensie op die lughawe het die twee meer vertel oor die omstandighede waaronder hulle gevange gehou is.

“Die toestande was onmenslik. Ons is erger as diere behandel,” het hulle gesê.

“Ons dieet het bestaan uit rys, brood en pasta, sonder enige vrugte en groente,” het Calitz vertel. “Ons hande was 24 uur van die dag geboei en die enkele kere wat ons toegelaat is om te was, is ons nie luukses soos seep toegelaat nie. Ons het elke dag slegs een en ʼn half liter water tussen die twee van ons gekry, wat ons vir die toilet ook moes gebruik. Dit was aaklig.”

ʼn Baie emosionele Pelizzari het gesê hy is ʼn nuwe man. “Dit sal my vier leeftye neem om almal terug te betaal.”

Die twee het gister vir die eerste keer drie kleinkinders ontmoet wat gebore is tydens hul aanhouding. Die paartjie se familie wou hulle aanvanklik eers in privaatheid ontvang voor die perskonferensie ʼn aanvang neem, maar het toe besluit om saam met die publiek te wag. “As dit nie vir die publiek was nie, sou hulle nie vandag hier gewees het nie,” het Calitz se dogter, Samantha de Jesus, gesê.

Die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, Maite Nkoana-Mashabane, het tydens die nuuskonferensie gesê die Somaliese, Italiaanse en Suid-Afrikaanse regerings het saam gewerk om die paartjie se bevryding te bewerkstellig en dat dit ʼn “baie, baie moeilike sending” was. “Ons sou julle baie graag vroeër wou huis toe bring,” het sy gesê. “Maar die belangrikste is dat julle nou veilig tuis is. Niemand gaan hierdie vryheid van julle wegneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.