Aktiviste vir die bewaring van skilpadbroeiplekke het Sondag ure lank by Sodwana gewag vir die aankoms van die Leatherback (dermochelys coriacea)- en Sotskilpaaie (caretta caretta).
“Ezemvelo KZN Wildlife het ʼn halfeeu van sy seeskilpadmonitorprogram gevier,” het Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo aan Maroela Media gesê. Entoesiaste het by Sodwana aan die noordkus van KwaZulu-Natal vir dié bedreigde spesies gewag om uit die water te kom en hul eiers op die strand te kom lê.
“Ons het slegs twee Leatherback-skilpaaie gesien, en slegs een van hulle het eiers gelê,” het Mntambo bygevoeg. “Die skilpaaie lê jaarliks tussen Oktober en Maart hul eiers.”
Die nagwaak is deel van die program se pogings om bewusmaking oor die skilpaaie te kweek. Een van die maatreëls om die skilpaaie se neste te beskerm is om 4×4-voertuie op die strande te verbied.