Seewater uit Rooi See kan Dooie See red

Seewater uit die Rooi See kan teen 2020 na die kwynende Dooie See begin vloei, maar die projek sal terselfdertyd vir die ontsouting van seewater en die opwekking van hidro-elektrisiteit gebruik word.

Maniere om seewater van óf die Middellandse See óf die Rooi See na die Dooie See wat meer as 400 meter onder seespieël is te laat vloei, word al jare lank ondersoek. Nou het die Wêreldbank na ‘n dekadelange ondersoek en openbare verhore tot die gevolgtrekking gekom dat dit lewensvatbaar sal wees.

Die Dooie See het weens die benutting van die water van sy hooftoevoerbron, die Jordaan, die afgelope 50 jaar met ‘n derde tot 620 vierkante kilometer gekrimp. Klimaatverandering word ook geblameer.

Benewens die verlies aan hierdie bekende baken, veroorsaak die dalende watervlak die vorming van sinkgate wat ‘n bedreiging vir landbou en nywerhede in die omgewing veroorsaak. Sowat 3 000 sulke sinkgate het reeds ontstaan. Verskeie fabrieke onttrek waardevolle grondstowwe uit hierdie natuurlike spa.

Die Wêreldbank beraam dat die koste sowat $10 miljard sal beloop. Die helfte van die finansiering sal gediens kan word uit die verkoop van ontsoute seewater en hidro-elektrisiteit, en die ander helfte uit ontwikkelingshulp.

Die Dooie See word omring deur Israel, Jordanië en die Palestynse gebiede, en dié drie entiteite het ‘n lang geskiedenis van dwarstrekkery en selfs oorlog.

Dié dwarstrekkery het in die verlede veroorsaak dat die nodige voorleggings nie saamgestel kon word om die meer as natuurwonder verklaar te kry nie, en ook nie as wêrelderfenisgebied nie.

Groen aktiviste staan die wateroordrag egter teen, en gebruik steeds presies dieselfde argumente as wat die Wêreldbank reeds ondersoek het, en verwerp het of behoorlike voorsorg voor ontwerp het.

Onder die besware van die Groenes tel dat die Dooie See deur alge ingeneem kan word, wat die wêreldbank meen deur die toevoeging van gipskristalle voorkom word. Ook die gevaar dat aardbewings van die pype kan laat breek en soutwater die ondergrondse water kan beïnvloed, sal deur behoorlike afsluitingstelsels voorkom kan word.

As die projek goedgekeur word, kan die bouwerk binne ses jaar begin, meen die Wêreldbank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.