“Sekspes”-onnie pleit skuldig; naam bekend gemaak

Hyde PArk

Hyde PArk

ʼn Onderwyser van ʼn hoërskool in Hyde Park, Johannesburg, wat geskors is nadat hy kaalfoto’s van homself aan ʼn 16-jarige leerling gestuur het, het in die hof skuldig gepleit en is ʼn boete en opgeskorte vonnis opgelê.

EWN het Dinsdag op Twitter berig die onderwyser, Jeffrey Ostrowick (37), is in die Alexandra-landdroshof ʼn boete van R3 000 of ses maande tronkstraf opgelê en het ʼn opgeskorte vonnis van vyf jaar gekry. Hy is ook ontslaan uit die Gautengse departement van onderwys. Ostrowick se naam mag nou bekend gemaak word, aangesien hy gepleit het. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gaan sy naam op die register vir seksuele oortreders aangebring word.

Die leerling se ma, wat die onderwyser by die polisie aangemeld het, het aan die uitsaaier gesê sy prys die polisie en dat geregtigheid geskied het, selfs al het hy ʼn ligte straf gekry. Sy het gesê sy is tevrede, want Ostrowick het nou ʼn kriminele rekord en sal nie weer kan onderwys gee nie.

Die onderwyser is in Augustus verlede jaar in hegtenis geneem nadat hy uitgevang is terwyl hy ʼn WhatsApp-gesprek met die leerling se ma gehad het. Hy was onder die indruk dat hy met die seun gesels. Die onderwyser het glo verskeie kaalfoto’s van homself aan die seun gestuur met suggestiewe boodskappe. Die ma het die volgende dag ʼn kriminele klag teen die onderwyser aanhangig gemaak en hy is agt dae later uit die skool geskors.

Shaheda Omar van die Teddy Bear Clinic, ʼn nie-regeringsorganisasie wat met mishandelde kinders werk, het aan TimesLive gesê die vonnis is “belaglik” en “kommerwekkend”, aangesien dit nie seksoortreders sal afskrik om soortgelyke misdade te pleeg nie.

Lees ook:
“Sekspes”-onnie kry borg
‘Sekspes’-onnie in hof
Onderwyser geskors ná kaalfoto

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dan ·

Hy moes langtermyn gevangenisstraf gekry het – wat is ‘n boete van R3 000 werd vir so ‘n ernstige misdaad?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.