Sekswerkers staan op teen misbruik

Argieffoto

As deel van die Internasionale Dag vir die Regte van Sekswerkers en Internasionale Vrouedag gaan honderde sekswerkers en menseregte-aktiviste Vrydag in verskeie stede optogte hou. Met die optogte wil hulle betoog teen sekswerkers wat deur sommige polisiebeamptes misbruik word. Hulle betoog ook teen die regstelsel wat glo versuim om dié beamptes behoorlik te vervolg.

“Dit is tyd dat die misbruik van sekswerkers as ʼn geslagsmisdryf beskou word, aangesien die meeste sekswerkers vroue is,” het Ntokozo Yingwana, van die Sex Workers’ Education and Advocacy Taskforce (SWEAT), gesê.

SWEAT is ‘n nie-winsgewend menseregte organisasie wat veg vir die regte van sekswerkers.

Kholi Buthelezi, nasionale koördineerder van Sisonke, ondersteun die optogte. Sisonke is die enigste Suid-Afrikaanse beweging vir sekswerkers, wat deur sekswerkers bestuur word. Die beweging beywer hom om prostitusie wettig te verklaar.

Sowat 70% van sekswerkers word deur polisie misbruik of verkrag omdat hulle “maklike” teikens is, berig die Sowetan.

Volgens die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is daar in die 2011/2012 jaarverslag, 720 klagtes aangemeld waar sekswerkers dood is aan die hande van polisiebeamptes. Slegs 18 beamptes is vir dieselfde tydperk vir die verwante sterftes skuldig bevind.

Betogers gaan eis dat die polisie voor die einde van die maand met afgevaardigdes van Sisonke vergader om die kwessies aan te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.