Sekuriteit by Londen-marathon opgeskerp

Londen-marathon

Die Londen-marathon vind Sondag onder streng sekuriteit plaas terwyl die 36 000 deelnemers hul solidariteit met die slagoffers van die Boston-marathonslagting betoon.

Organiseerders in Londen het gesê daar is 40% meer polisiebeamptes langs die 42km-lange wedloop ontplooi om deelnemers en derduisende toeskouers gerus te stel.

Drie mense is Maandag dood en minstens 180 beseer tydens bomontploffings by die eindstreep by die Boston-marathon in Amerika.

Deelnemers aan die Londen-marathon in Engeland is versoek om ‘n 30-sekondelange stilte te hou voor die aanvang van die wedloop en om swart bandjies te dra ter nagedagtenis aan die slagoffers by die Boston-marathon.

Volgens die wedloop se bagasiebestuurder is 34 vragmotors gebruik om die rugsakke, wat aan die deelnemers behoort, van die beginpunt in Blackheath, suid-oos Londen, na die eindstreep by The Mall naby Buckingham-paleis te neem. Die bomme in die Boston-aanval is glo in van die rugsakke geplaas.

Die polisie in Londen sê hulle is in nabye verbinding met die Federale Buro van Ondersoek (FBI) in Amerika en die polisie in Boston en daar is geen bewyse vir ‘n bedreiging vir die London-marathon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.