Sekuriteit in SA by Batman-films opgeskerp

Nu Metro het gesê sekuriteit gaan by al hul teaters landswyd verskerp word wanneer die nuutste Batman-rolprent op 27 Julie begin draai.

Dit volg ná ʼn man verlede Vrydag 12 mense doodgeskiet en 58 gewond het tydens ʼn Batman-première in Colorado, Amerika.

James Holmes, ʼn 24-jarige nagraadse student, word in verband met dié massamoord in die Arapahoe County-tronk in Centennial aangehou. Holmes het Vrydag glo tydens die première van die fliek, Batman – The Dark Knight Rises, in ‘n volgepakte teater ingestorm en wild en wakker begin skiet. Die voorval het by ʼn winkelsentrum in Aurora, naby Centennial, plaasgevind.

Fiaz Mahomed, die hoofbestuurder van Ster Kinekor, het aan RSG gesê die vooraf-vertonings by sy teaters het verlede naweek sonder enige voorvalle verloop.

Sedert Vrydag se voorval is ten minste drie mense in Amerika in hegtenis geneem wat soortegelyke dreigemente in afsonderlike voorvalle tydens dié film gemaak het.

In Arizona het sowat 50 mense uit ʼn teater gehardloop na ʼn man wat besope voorgekom het die mense geïntimideer en gedreig het. Die 27-Jarige Micael Borboa is tydens die voorval vir wangedrag in hegtenis geneem, berig die Belfast Telegraph.

Timothy Courtios is in Maine aangekeer nadat hy vir ʼn spoedoortreding deur die polisie van die pad af getrek is. Die polisie het sy voertuig deursoek en ʼn AK-74 geweer, vier pistole en ammunisie gekry. Hy het aan die polisie gesê hy was na ʼn voormalige werkgewer onderweg om hom te skiet, die dag ná hy die rolprent gesien het.

In Suid-California is die 52-jarige Clark Tabout tydens ʼn middagvertoning in hegtenis geneem nadat hy gedreig het om amok te maak omdat die rolprent nie betyds begin het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.