Seldsame aardbewing op Antarktika

‘n Aardbewing, van 5,6 op die Richterskaal, het Vrydag op die Antarktiese vasteland plaasgevind.

Aardbewings op dié yskontinent is baie raar, hoewel ‘n baie sterk aardbewing van M 8,1 op 25 Maart 1998 by die Baleinse Eilanade naby die Antartiktiese kus plaasgevind het. Die Baleinse Eilande is naby die westelike kant van die Rosssee, terwyl die jongste aardbewing aan die ander kant van die baai was. Die Suid-Afrikaanse weerbasis, Sanae, is aan die oorkant van die kontinent, en daar is geen permanente basisse naby die jongste aardbewing nie.

Dié aardbewing het op ‘n betreklike vlak diepte van net minder as tien kilometer plaasgevind. Dit is effektief dieselfde diepte as die reeks sterk skuddings in Noord-Italië wat lewensverlies en groot skade aangerig het. Die sterkste hiervan was M6 (5,9 op die Richterskaal).

‘n Groep Japannese wetenskaplikes het in 1999 ‘n verslag gepubliseer waarin hulle aanvoer dat hulle bewys het dat die aardskudding by die Baleinse Eilande die gevolg was van die wegsmelt van die ys op Antarktika.

Vrae sal wel weer gevra word of die jongste aardbewing ook die gevolg van smeltende ys kan wees.

Daar kom gereeld aardbewings voor in die omgewing van die ondersese rif wat van die Antarktiese skiereiland met ‘n boog na Suid-Amerika loop. Tussen Suid-Afrika en Antarktika is die aardbewings ook gewoonlik tot die Mid-Oseaniese rif beperk.

Die enigste potensiële implikasie wat ‘n Antarktiese aardbewing vir die omringende kontinente inhou is die moontlikheid van ‘n tsunami. Tot dusver was Antarktika aan die ontvangkant, soos tydens verlede jaar se groot Japannese aardbewing toe die tsunami ysberge van die yskontiment se ysplaat losgebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.