Seldsame groen komeet in SA te sien

Toe die groen komeet die naaste aan die aarde was. (Foto: Samil Cabrera/Twitter)

ʼn Seldsame komeet met ʼn groen skynsel is vandeesweek vanuit Suid-Afrika te sien en diegene wat gelukkig genoeg is om dit raak te kyk, sal ʼn eenmalige ervaring hê.

“Komete is oor die algemeen ʼn besonderse verskynsel omdat dit duisende jare vat om ons son te bereik,” sê die ruimtefisikus dr. Ruhann Steyn.

“Ons as mense op aarde sien eintlik net ʼn paar keer, of selfs net een keer, in ons leeftyd ʼn komeet.”

Volgens Steyn is die betrokke komeet, bekend as C/2022 E3 (ZTF), in Maart verlede jaar vir die eerste keer deur die Zwicky Transient-fasiliteit in die VSA op pad na die son gewaar. Sedertdien wag sterrekundiges geduldig vir die komeet om sy verskynsel naby die aarde te maak.

“Die komeet was op 1 Februarie die naaste aan die aarde, maar ongelukkig kon ons dit nie in Suid-Afrika sien nie. Slegs diegene wat in die Noordelike Halfrond woonagtig is, kon dit sien,” sê hy.

Op sy naaste punt was die komeet sowat 42 miljoen km weg van die aarde. In vergelyking hiermee is die maan net meer as 380 000 km weg van die aarde.

“ʼn Week later kan ons die komeet nou aan die Suidelike Halfrond sien. Dit behoort vandeesweek nog sigbaar te wees, maar omdat dit ʼn week gelede die naaste aan die aarde was, begin dit vinniger verdwyn en is dit dus moeiliker om te sien.”

Steyn verduidelik dat ʼn komeet wesenlik ʼn groot bol ys is wat dermiljoene kilometers weg van die aarde gevorm word. Wanneer twee van hierdie ysrotse teen mekaar bots, word hulle van hul wentelbaan gegooi en beweeg dit dan na ʼn massa wat die grootste gravitasie het, in hierdie geval die son.

Dit vat dan duisende jare om die son te bereik en om dit te wentel. In ʼn kwessie van ʼn paar weke begin die ys van die komeet egter te sublimeer totdat dit die kern bereik. Sublimasie is wanneer ʼn soliede stof warm genoeg word dat dit dadelik in ʼn gas verander.

“Die proses van sublimasie is dikwels waarom ʼn stert aan komete gesien kan word en dié komeet se tipe gasse veroorsaak die groen skynsel.”

Steyn se kollegas het vroeër vandeesweek probeer om die komeet op te spoor, maar bieg dat dit net-net nie met die blote oog gesien kan word nie.

“As jy in ʼn besonder donker gebied woon, soos die Karoo, en die weer laat dit toe, kan jy met ʼn goeie verkyker of teleskoop daarna kyk. As jy weet waar om te kyk, kan jy selfs jou selfoon inspan om ʼn langblootstellingfoto te neem.”

Suid-Afrikaners moet ideaal gesproke tussen 20:00 en 20:30 sowat 27 grade bo die horison in ʼn noordwestelike rigting kyk om moontlik die komeet te sien.

“Die rede waarom daar net ʼn klein geleentheidsvenster is, is omdat die maan ná 20:30 ten volle sigbaar is. Omdat dit ook nou volmaan is, is dit basies een massiewe lig wat die komeet verdoof.”

Dr. Daniel Cunnama, sterrekundige verbonde aan die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag, sê as Suid-Afrikaners wel gelukkig genoeg is om dit te sien, behoort dit soos ʼn wasige blerts te lyk “eerder as die prenteboekbeeld van ʼn komeet”.

Die komeet sal na verwagting teen die naweek nie meer in Suid-Afrika of wêreldwyd sigbaar wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Ek het Haley gesien in 1986 mag dalk net dit weer sien as ek gelukkig is. McNaught was fantasties in 2007. Lank en baie helder sigbaar gewees. Ook sommer so half vertikaal gewees. Baie mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.