Selebi dalk steeds tronk toe

Jackie Selebi word na die Jakaranda-hospitaal vervoer kort nadat hy by sy huis inmekaargesak het. Foto:SAPA

Die voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi, se regsverteenwoordigers kon nie daarin slaag om die griffier van die hooggeregshof in Johannesburg te oortuig dat hy te siek is om tronk toe te gaan nie.

Selebi se regspan het Maandagoggend met die griffier van die hooggeregshof in Johannesburg vergader oor of Selebi in die Jakaranda-hospitaal kan aanbly of na ʼn tronk-hospitaal oorgeplaas moet word. Volgens die Times het die griffier ʼn ondersoekbeampte met ʼn lasbrief na die Jakaranda-hospitaal gestuur. Die ondersoekbeampte moet vasstel wat Selebi se toestand is en aan die griffie terugrapporteer wat dan ʼn beslissing sal maak. Selebi het Vrydag by sy huis in Pretoria inmekaargesak nadat hy gehoor het sy appèlaansoek om sy 15 jaar vonnis vir korrupsie ter syde te stel, van die hand gewys is. Intussen berig EWN dat Selebi die afgelope ruk dialise ondergaan het en moontlik ʼn orgaanoorplanting moet kry weens komplikasies met diabetes. Daar is ook berig dat Selebi moontlik ʼn ligte beroerte gehad het. Selebi was veronderstel om binne 48uur by ʼn korrektiewe fasiliteit in Johannesburg aan te meld nadat die hoogste hof van appèl Vrydag sy appèlaansoek van die hand gewys het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.