Selebi en Shaik baat by vonnisvermindering

Die voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi, en die veroordeelde bedrieër, Schabir Shaik, sal baat by President Jacob Zuma se aankondiging op Vryheidsdag dat van die land se gevangenes se vonnisse verminder sal word.

Die SABC berig dat die minister van korrektiewe dienste, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gesê het dat albei mans kwalifiseer vir ʼn 18 maande vermindering in hul vonnisse. Sy sê hul maak deel uit van duisende gevangenes, volgens berigte tot 35 000, wat vroeër vrygelaat sal word. Shaik is in 2005 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en korrupsie. Hy is 2009 op mediese parool vrygelaat nadat hy twee jaar en vier maande van sy vonnis uitgedien het. Sy vonnis eindig effektief in 2021. Selebi is op 5 Desember in die Pretoria Sentraal gevangenis se hospitaalafdeling opgeneem nadat hy sy 15 jaar vonnis vir korrupsie moes begin uitdien. Selebi is eers in die Jakaranda hospitaal behandel nadat hy op 2 Desember by sy huis in Waterkloof inmekaargesak het toe die hoogste hof van appèl sy aansoek om sy vonnis ter syde te stel, van die hand gewys het.

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het vroeër gesê dat nagenoeg 35 000 gevangenes vroeër vrygelaat kan word. Mthethwa sê dit sal tot gevolg hê dat oorbevolking in tronke van 34 na 20 persent verminder sal word. Hy sê gevangenes wat kwalifiseer om vrygelaat te word sal op 14 Mei in “gereguleerde groepe” vrygelaat word. Zuma het Vrydag aangekondig dat gevangenes se vonnisse met tussen ses en 18 maande verminder sal word. Gevangenes wat aan seksuele, gewelddadige, vuurwapenverwante of dwelmverwante misdade skuldig bevind is, se vonnisse is met ses maande verminder. Ander gevangenes se vonnisse sal met 18 maande verminder word. Die DA het Zuma se aankondiging as ʼn “klap in die gesig vir slagoffers van misdaad en hul gesinne” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.