Selebi hoor Vrydag sy lot

Die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi. Foto: GCIS

Die Appèlhof in Bloemfontein sal Vrydag bekendmaak of die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi, tronk toe moet gaan weens korrupsie.

Selebi se appèlaansoek is begin November aangehoor nadat hy in Augustus verlede jaar in die Johannesburgse hooggeregshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is weens korrupsie. Selebi het toestemming gekry om appèl aan te teken op twee beperkte vrae, naamlik of daar ʼn korrupte verhouding was tussen hom en Glen Agliotti en of hy vergoeding ontvang het in die proses van korrupsie. Indien die appèlregters bevind dit was die geval, kan Selebi sy vonnis begin uitdien of appèl aanteken in die konstitusionele hof.

Tydens Selebi se appèlaansoek het die staatsaanklaer, Gerrie Nel, aan die hof gesê daar is geen rede om die vorige uitspraak te bevraagteken nie. Nel het aan ʼn volbank regters gesê Selebi het nie verduidelik hoe hy groot bedrae geld bekom het nie. Selebi se advokaat, Jaap Cilliers, het egter Agliotti se getuienis bevraagteken. Selebi se regskostes het belastingbetalers reeds meer as R17 miljoen uit die sak gejaag. Selebi moet egter self sy appèlkoste betaal. Indien Selebi se pogings om uit die tronk te bly misluk sal hy die R17,4 miljoen moet terugbetaal aan die staat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.