Selebi se appèlaansoek is begin November aangehoor nadat hy in Augustus verlede jaar in die Johannesburgse hooggeregshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is weens korrupsie. Selebi het toestemming gekry om appèl aan te teken op twee beperkte vrae, naamlik of daar ʼn korrupte verhouding was tussen hom en Glen Agliotti en of hy vergoeding ontvang het in die proses van korrupsie. Indien die appèlregters bevind dit was die geval, kan Selebi sy vonnis begin uitdien of appèl aanteken in die konstitusionele hof.
Tydens Selebi se appèlaansoek het die staatsaanklaer, Gerrie Nel, aan die hof gesê daar is geen rede om die vorige uitspraak te bevraagteken nie. Nel het aan ʼn volbank regters gesê Selebi het nie verduidelik hoe hy groot bedrae geld bekom het nie. Selebi se advokaat, Jaap Cilliers, het egter Agliotti se getuienis bevraagteken. Selebi se regskostes het belastingbetalers reeds meer as R17 miljoen uit die sak gejaag. Selebi moet egter self sy appèlkoste betaal. Indien Selebi se pogings om uit die tronk te bly misluk sal hy die R17,4 miljoen moet terugbetaal aan die staat.