Selebi in hospitaal opgeneem

Die departement van korrektiewe dienste het Donderdag bevestig dat Jackie Selebi, voormalige polisiehoof, in die hospitaal opgeneem is.

Selebi is in 2010 aan korrupsie skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Hy is op 20 Julie op mediese parool vrygelaat. Volgens ʼn nierspesialis is hy terminaal siek met ander gesondheidsprobleme soos onder andere ʼn hartsiekte, diabetes en bloeddruk. Hy kwalifiseer nie vir ʼn nieroorplanting nie. Selebi benodig glo ’n paar keer per week behandeling in die hospitaal waar hy aan ’n dialisetoestel gekoppel word.

James Smalberger, hoof-adjunkkommissaris van korrektiewe dienste, het gesê Selebi is Dinsdag in ʼn hospitaal opgeneem. Hy kon nie bevestig in watter hospitaal hy opgeneem is nie en kon ook nie oor Selebi se toestand uitbrei nie.

Dr. Ernest Kenoshi, die hoof uitvoerende beampte van die Steve Biko-hospitaal, het Maandag gesê dat Selebi nie meer ʼn pasiënt daar is nie en dat hy versoek het om na die Jakaranda-hospitaal oorgeplaas te word.

Adri Opperman, wooordvoerder vir die Jakaranda-hospitaal, het geweier om kommentaar te lewer. Sy sê die hospitaal het ʼn beleid om nie oor pasiënte uit te praat nie.

SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.