Selebi se dokter, Heleen Bierman, het aan verslaggewers in Pretoria gesê dat hy aan “eindfase nierversaking ly.” Bierman sê Selebi se siekte is in die stadium waar hy terapie moet begin ontvang vir ʼn niervervanging. Selebi se dokters het aanbeveel dat hy in die hospitaal-afdeling van die tronk bly wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word. Die kommissaris van korrektiewe dienste, Tom Moyane, sê verskeie chroniese siektes kompliseer Selebi se toestand. Monyane sê Selebi het “onbeheerbare suikervlakke as gevolg van diabetes en stygende hoë bloeddrukvlakke en moes ook laserbehandeling ontvang aan beide sy oë.” Monyane sê Selebi word tans deur ʼn span dokters behandel in die Steve Biko-hospitaal. “Sy toestand is baie ernstig maar stabiel.” Monyane sê Selebi se mediese behandeling is kompleks aangesien hy diabetes het en dialise moet ontvang.
Selebi is verlede week Maandag na die Steve Biko-hospitaal vervoer om behandeling te ontvang vir hipertensie en nierprobleme. Hy ontvang glo dialise en is na bewering geskeduleer om ʼn orgaanoorplanting te kry as gevolg van komplikasies met diabetes. Selebi is op 12 November ook na die Steve Biko-hospitaal geneem vir mediese toetse. Selebi is op 5 Desember in die Pretoria Sentraal gevangenis se hospitaalafdeling opgeneem nadat hy sy 15 jaar vonnis vir korrupsie moes begin uitdien. Selebi is eers in die Jakaranda hospitaal behandel nadat hy op 2 Desember by sy huis in Waterkloof inmekaargesak het toe die hoogste hof van appèl sy aansoek om sy vonnis ter syde te stel, van die hand gewys het. Daar is vroeër berig dat Selebi na die Johannesburgse gevangenis, ook bekend as “Sun City”, oorgeplaas sal word sodra sy toestand verbeter.