Selebi moet regsfooie betaal

Voormalige hoof van polisie, Jackie Selebi, moet al sy regsfooie aan die staat terugbetaal, het die departement van justisie Vrydag gesê.

Tlali Tlali, woordvoerder vir die departement, het gesê hulle sal nou begin om die koste te beraam en deur Selebi se prokureurs met hom kommunikeer. Op die vraag wat sou gebeur indien Selebi nie die regsfooie kan terugbetaal nie, het Tlali gesê: “Ons sal normale skuldinvorderingsprosesse volg.” Selebi het die staat gevra om hom te help om sy regsfooie te betaal gedurende sy korrupsie-verhoor. Tydens ‘n voorverhoor-ooreenkoms met die staat het hy ingestem om al die kostes terug te betaal indien hy die saak sou verloor.

Selebi is 15 jaar tronkstraf opgelê vir korrupsie nadat hy betalings van die dwelmhandelaar, Glen Agliotti, aanvaar het, maar hy het appèl aangeteken. Die appèlshof het Vrydag in Johannesburg bevind dat die hooggeregshof se uitspraak aanvaarbaar was en Selebi se appèlaansoek afgekeur. Selebi is na die Jakaranda-hospitaal geneem nadat hy op televisie gesien het sy appèlaansoek is afgekeur. Die voormalige president van Interpol het glo na die uitspraak ineengesak en kon nie loop nie. Selebi het tot Sondagaand om by die tronk in Johannesburg, wat ook as Sun City bekendstaan, aan te meld om sy tronkstraf uit te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.