Selebi was veronderstel om vandag by Korrektiewe Dienste in Johannesburg aan te meld nadat die appèlhof sy appèlaansoek Vrydag verwerp het. Hy is 15 jaar tronkstraf opgelê nadat hy van korrupsie skuldig bevind is.
Na verwagting sal Selebi se prokureurs Maandag na die Suid-Gautengse hooggeregshof gaan om toestemming te verkry dat Selebi nog ‘n week in die hospitaal mag bly. Dokters sal Selebi ondersoek om die erns van sy toestand te bepaal. Die uitstel sal moontlik goedgekeur word. Tom Moyane, hoof van Korrektiewe Dienste, het gesê dat hulle nie gevangenes uit hulle hospitaalbeddens wil haal nie. “Dit is duidelik dat hy na ons fasiliteit moet loop of geneem word. Korrektiewe Dienste sal dan van daar af oorneem,” het hy gesê. Persone na aan Selebi sê dat hy nie praat nie en dat hy nie aan gesprekke oor sy toekoms deelneem nie. Hulle vermoed dat hy nie daarvan bewus is dat hy tronk toe moet gaan nie. Dit blyk dat Selebi se toestand ernstig is en met sy diabetes verband hou. Naasbestaandes het gesê hy was op dialise en benodig moontlik ‘n orgaanoorplanting.