Selebi-saak: Agliotti en Muller se getuienis bevraagteken

Die voormalige polisiehoof, Jackie Selebi. Foto: GCIS

Die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi, se appèlaansoek teen sy vonnis weens korrupsie sal Woensdag in die Appèlhof in Bloemfontein voortgesit word.

Selebi se regspan het Dinsdag sy betoë afgesluit. Sy advokaat, Jaap Cilliers, het die staatsgetuies, Glen Agliotti en Diane Muller, se getuienis bevraagteken. Muller is Agliotti se gewese verloofde. Cilliers het volgehou dat Selebi nie geld van Agliotti ontvang het nie en dat Agliotti die hof opsetlik mislei het toe hy getuig het. Selebi is in Augustus verlede jaar in die Johannesburgse hooggeregshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis weens korrupsie. Regter Meyer Joffe het beslis dat Agliotti voordeel getrek het uit die geld wat hy vir Selebi gegee het. Cilliers het aangevoer dit is onwaarskynlik dat Agliotti die inskrywings “JS”, “COP” en “Chief” op tjek-kantstrokies gemaak het om op hoogte te bly van betalings aan Selebi. Die aanklaer in die saak, Gerrie Nel, sal Woensdag met sy argumente begin. Selebi se regskoste het belastingbetalers reeds meer as R17 miljoen uit die sak gejaag. Selebi moet egter self sy appèlkoste betaal. Indien Selebi se pogings om uit die tronk te bly misluk sal hy die R17,4 miljoen moet terugbetaal aan die staat. Selebi was nie Dinsdag in die hof nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.