Selebi se appèlaansoek misluk

Die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi. Foto: GCIS

Die voormalige nasionale polisiekommisaris, Jackie Selebi, se appèlaansoek om sy 15 jaar tronkstraf vonnis ter syde stel is deur die hoogste hof van appèl in Bloemfontein van die hand gewys.

“Die appèlaansoek is van die hand gewys,” het regter Kenneth Mthiyane in Bloemfontein gesê. Selebi moet dadelik sy 15 jaar tronkstraf begin uitdien of aansoek doen om appèl in die konstitusionele hof. Selebi is in Augustus verlede jaar in die Johannesburgse hooggeregshof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis weens korrupsie. Mthiyane het onder meer aangevoer dat die inskrywings “JS”, “COP” en “Chief” op tjek-kantstrokies wel na Selebi verwys het. Hulle het die voorlegging dat die tjeks vir ʼn siek polisieman was wat Glen Agliotti probeer help het, vewerp. Selebi het vroeër toestemming gekry om appèl aan te teken op twee beperkte vrae, naamlik of daar ʼn korrupte verhouding was tussen hom en Agliotti en of hy vergoeding ontvang het in die proses van korrupsie.

Tydens Selebi se appèlaansoek het die staatsaanklaer, Gerrie Nel, aan die hof gesê daar is geen rede om die vorige uitspraak te bevraagteken nie. Nel het aan ʼn volbank regters gesê Selebi het nie verduidelik hoe hy groot bedrae geld bekom het nie. Selebi se advokaat, Jaap Cilliers, het egter Agliotti se getuienis bevraagteken. Selebi se regskostes het belastingbetalers reeds meer as R17 miljoen uit die sak gejaag. Selebi moet egter self sy appèlkoste betaal. Indien Selebi se pogings om uit die tronk te bly misluk sal hy die R17,4 miljoen moet terugbetaal aan die staat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.