Selebi se vriende doen aansoek vir mediese parool

Jackie Selebi Foto: GCIS

Twee mans wat hulself “vriende van Jackie Selebi” noem, het ʼn aansoek ingedien dat die voormalige nasionale polisiekommissaris op mediese parool vrygelaat moet word, luidens ʼn berig Vrydag.

The Star het berig dat die twee aanvoer dat die tronk geen plek is vir ʼn terminale siek ou man nie. Thabo Lesole en Sipho Thanjekwayo se argumente word vervat in ʼn 10-bladsylange brief gerig aan Tom Moyane, kommissaris vir korrektiewe dienste. “Ons rig ʼn spesiale versoek en dien die aansoek in gebaseer op sy mediese toestand en ouderdom. Ons is van mening dat ons korrektiewe sentra se hoofdoel nie daar is om mense te straf nie, maar eerder om oortreders te rehabiliteer.” Volgens hulle het Selebi reeds genoeg pyn en vernedering deurgemaak. “Ons is oortuig dat die gevangehouding van die aansoeker nie die land tot enige voordeel strek nie… inteendeel, die aansoeker sal agteruit gaan en ʼn pynlike dood sterf,” het die twee geskryf. Zacharia Modise, woordvoerder vir korrektiewe dienste, het ontvangs van die brief erken en gesê dit is gebruiklik dat ʼn aansoek tot mediese parool gewoonlik deur ʼn familielid, regsverteenwoordiger of korrektiewe dienste ingedien word. Hy het bevestig dat die departement wel aan die mans terugvoer sal gee. “Ons het die brief vanoggend [Donderdag] ontvang. Die departement van korrektiewe dienste sal daarop reageer.”

Selebi is in Julie 2010 skuldig bevind op aanklagte van bedrog en is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het teen die uitspraak appelleer, maar die hoogste hof van appèl het sy aansoek om sy vonnis ter syde te stel, van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.