Selfoonbaas dalk dood in vliegongeluk

Argieffoto van ‘n Beechcraft Baron-vliegtuig

Eric Hertz, die hoof uitvoerende beampte van 2degrees, ‘n selfoonmaatskappy in Nieu-Seeland, en sy vrou, Kathy, het Saterdag glo in ‘n ligtevliegtuigongeluk aan die North Island se weskus gesterf.

Die vlieënier van die dubbelenjin Beechcraft Baron het oor die radio met Airways New Zealand in verbinding getree om ‘n probleem met die enjin aan te gee. Sekondes later het die vliegtuig van die radar af verdwyn. Die vliegtuig het glo 20km van die kuslyn af in die oseaan neergestort.

2degrees, Nieu-Seeland se derde grootste selfoonmaatskappy, het bevestig dat Hertz, ‘n vlieënier, die vliegtuig besit het. “Alhoewel ons beperkte inligting het, verstaan ons dat Eric en sy vrou, Kathy, aan boord was en dat dit hoogs onwaarskynlik is dat hulle die ongeluk oorleef het. Ons fokus is nou om Eric en Kathy se dogter te ondersteun en bystand aan die gesin te verleen,” het die maatskappy in ‘n verklaring gesê.

Waikato-polisie sê die soektog na die twee insittendes is met eerste lig weer hervat. Hertz, ‘n Amerikaanse burger, het in 2009 by 2degrees aangesluit. Hy het ook vantevore vir telekommunikasiemaatskappye AT&T Wireless, BellSouth en Zumobi gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.