Selmoord: Rassistiese aanmerkings lei glo tot sy dood

Eben Meyer saam met sy verloofde Sylvia Hamman. Foto: Facebook

Eben Meyer (47) se dood was glo as gevolg van ʼn geveg wat onstaan het weens beweerde rassistiese aanmerkings, het die Belville-streekshof Maandag gehoor.

Meyer is op 20 April in hegtenis geneem vir openbare dronkenskap. Hy het glo by die Stones-kroeg in Durbanville gekuier nadat hy en sy verloofde, Sylvia Hamman, glo ‘n rusie gehad het. Hy is volgens die polisie saam met agt ander mense wat ook onder die invloed was, in ’n sel aangehou. Meyer is glo omstreeks 01:30 deur twee mans in die selle aangerand. Hulle het hom na bewering herhaaldelik geskop en geslaan en hy het aan sy beserings beswyk. Danie Dyosi (40) en Sipho Mhlanga (29) is aangekla van die moord op Meyer. Mhlanga het gister getuig dat ‘n geveg in die sel uitgebreek het nadat Meyer rassistiese aanmerkings gemaak het. “Meyer het in sy besope toestand beledigend geraak teenoor Dyosi en aan hom gesê dat k*****s nie toegelaat word om in dieselfde vertrek as witmense te slaap nie.” Mhlanga beweer hy het wakker geword nadat Meyer glo vir Dyosi aangerand het. “Toe die oorlede besef ek is wakker het hy my ook aangerand. Ons het hom toegelaat om ons vir nagenoeg 30 minute aan te rand voor ons moeg geraak het daarvoor en hom terug aangerand het.” Mhlanga sê Meyer het hierna opgehou om hulle aan te rand en hulle om verskoning gevra. Volgens Mhlanga het hulle hierna vir Meyer ʼn kombers gegee en het hulle omstreeks 1:30 verneem dat hy oorlede is. Die beskuldigdes se borgaansoek word op 1 Augustus voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.