Senior polisieman dood aangetref

Een van Gauteng se senior beamptes in die polisie is Dinsdag dood aangetref in ʼn oop veld naby Hammanskraal, noord van Pretoria.

“Die senior beampte se liggaam is in die vroeë oggendure gevind. Die beampte se hande en voete was vasgebind. Inspekteurs is op die toneel om die gebied te fynkam en om die oorsaak van sy dood te bepaal,” het brig. Neville Malila, ʼn polisiewoordvoerder gesê.

Die beampte se amptelike voertuig is Maandagaand verlate op die R101-pad naby Rooiwal gevind deur polisiebeamptes wat die gebied gepatrolleer het.

“Met verdere inspeksie het die beamptes ‘n polisie-uniform en ‘n dienssertifikaat in die voertuig gevind,” het Malila gesê.

Toe die beamptes vasgestel het aan wie die voertuig behoort, is hulle na die slagoffer se huis waar sy vrou gesê het hy is die middag laas gesien toe hy omstreeks 14:00 gaan werk het.

Die polisie ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur en sy liggaam later in ʼn veld naby die R101-pad gevind.

Die polisie was Dinsdagoggend nog op die toneel. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die identiteit van die speurder mag nog nie bekend gemaak word nie, aangesien sy hele familie nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.

– Sapa


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.