Sensus 2011: Alles wat jy moet weet

Die Sensus 2011-dokument, wat ‘n kykie in die situasie van die land soos op 9 Oktober 2011 bied, is Dinsdag bekendgemaak.

Elektroniese toerusting

Byna 10,7 miljoen van die 14,5 miljoen huisgesinne in Suid-Afrika besit ‘n televisiestel, terwyl slegs 9,9 miljoen yskaste besit.

Meer as 12,8 miljoen huisgesinne besit ‘n selfoon, en 11,1 miljoen het ‘n gas- of elektriese stoof. 8,6 miljoen besit ‘n DVD-speler.

Sowat 4,6 miljoen huisgesinne besit ‘n wasmasjien, maar slegs 2,5 miljoen besit ‘n stofsuier. 4,3 miljoen huisgesinne besit ‘n motor.

Daar is 3,7 miljoen huisgesinne wat satelliettelevisie besit en 3,1 miljoen wat ‘n rekenaar besit.

‘n Merkwaardige 9,4 miljoen huisgesinne het geen toegang tot internet nie – nie by die huis, werk, via selfoon of andersins nie. Dit beteken dus dat 35.2% van huisgesinne toegang tot die internet het, en 64.8% van huisgesinne geen toegang tot die internet het nie.

Behuising

Sowat 9,4 miljoen huisgesinne bly in ‘n baksteen/sementblokhuis op ‘n afsonderlike erf of plaas. ‘n Tabel in die dokument dui aan 720 327 gesinne woon in woonstelblokke. Die meeste gesinne in woonstelblokke (280 396) is in Gauteng en 167 301 in KwaZulu-Natal en 125 372 in die Wes-Kaap. Meer as 1,2 miljoen gesinne woon in informele nedersettings insluitend plakkerskampe. 14 439 huisgesinne bly in karavane en tente.

Sowat 6 miljoen van die 14,5 miljoen huisgesinne in Suid-Afrika besit hul huise met lenings wat “ten volle betaal” is. 1,7 miljoen huisgesinne het nog huisleningskuld, 3,6 miljoen huur en 2,7 miljoen bly verniet. 4,9 miljoen swart gesinne besit huise wat reeds afbetaal is in vergelyking met die net meer as 500 000 wit gesinne, 415 940 bruin gesinne en 119 457 Indiërs of Asiërs.

Migrasie

Bykans die helfte van mense wat in Gauteng woon, is nie in die provinsie gebore nie. Slegs 56% van die mense wat in Gauteng getel is, is in die provinsie gebore in vergelyking met 94% van mense in die Oos-Kaap. Net meer as 5,8 miljoen mense was in Gauteng woonagtig toe die sensusopname gedoen is.

Op 9 Oktober was daar nagenoeg 51,8 miljoen mense woonagtig in Suid-Afrika. 2,3 miljoen (4.4%) van dié mense het verklaar dat hulle nie in Suid-Afrika gebore is nie. Onder wit mense is die hoogste persentasie wat sê dat hulle nie in Suid-Afrika gebore is nie (8.5%). Tweede is Indiërs of Asiërs (7.3%) en dan swart mense (3,9%).

Beamptes van Statistiek Suid-Afrika (SSA) het Dinsdag gesê dat die netto ondertelling van die sensus sowat 14.6% was. In die vorige sensus in 2001 was dit sowat 17%. Skattings en aanpassings is gedoen om ‘n “ware bevolkingsgetal” vir die land vas te stel. Enigiets minder as 10% word as ‘n akkurate sensus geag, en dit is jammer dat Statistiek Suid-Afrika nie die ondertelling tot minder as 10% kon beperk nie, hoewel dit verbeter het sedert die vorige sensus.

Opvoeding

28.4% van die bevolking ouer as 19 het graad 12 as hul hoogste kwalifikasie, in vergelyking met 20.4% in 2001. Die persentasie van mense ouer as 19 met ʼn onvoltooide sekondêre opvoeding het van 30.2% in 2001 na 33.8% toegeneem in 2011.

Slegs 8.6% van mense ouer as 19 het geen skoolopvoeding nie, in vergelyking met 17.9% in 2001.

17.3% van mense ouer as 19 in Limpopo het geen skoolopvoeding nie, en 14% in Mpumalanga het geen skoolopvoeding nie. Slegs 2.7% van mense ouer as 19 in die Wes-Kaap het geen skoolopvoeding nie.

12.1% van mense ouer as 19 het ‘n tersiêre kwalifikasie in vergelyking met slegs 9.1% in 2001. In Gauteng het 18% van inwoners ouer as 19 ‘n tersiêre kwalifikasie en 14.4% in die Wes-Kaap.

Ouderdom

Meer as twee derdes van die bevolking is jonger as 35 jaar oud.

Meer as 5,6 miljoen Suid-Afrikaners is jonger as 5 jaar oud. 4,8 miljoen kinders is vyf tot nege jaar oud en bykans 4,6 miljoen is tien tot 14 jaar oud.

37,6% van mense in Suid-Afrika is 15 tot 34 jaar oud.

Die bevolking in Gauteng groei toenemend en word nou selfs meer as in KwaZulu-Natal.

Ras

Agt uit elke 10 mense in Suid-Afrika is swart. Sowat 41 miljoen mense in Suid-Afrika beskryf hulself as swart; 4,62 miljoen as bruin; 4,59 miljoen as wit en 1,3 miljoen as Indiër of Asiër. 280 454 mense het hulself as “ander” identifiseer.

Taal

Net meer as 11,5 miljoen mense het isiZulu as hul moedertaal aangedui, gevolg deur isiXhosa wat deur 8 miljoen Suid-Afrikaners gepraat word. Afrikaans is steeds die taal wat derde meeste in Suid-Afrika as huistaal gepraat word. 13.5% van die bevolking praat Afrikaans; in 2001 het 13.3% van mense aangedui hulle praat Afrikaans in die huis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Hierdie sin is onlogies: ” Dit beteken dus dat 35.2% van huisgesinne toegang tot internet het, maar 64.8 geen toegang tot internet nie.” ???

Gemsbok ·

Henrietta, die sin bevat dalk ‘n pleonasme, maar onlogies is dit sekerlik tog nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.