Sensus-werker aangeval in Oos-Kaap

ʼn Man van Oos-Londen is in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om ʼn Sensus-werker te verkrag.

Die Dispatch Online berig dat die vrou Vrydag ʼn Sensus-vraelys by ʼn huis in Quigney wou gaan afhaal toe die voorval glo plaasgevind het. Een van die huis se inwoners het glo aan die vrou gesê dat hy nog nie die vraelys ingevul het nie en dat hy hulp nodig het. Die vrou beweer toe sy die man probeer help het, het drie “halfnaak” mans die vertrek binnegekom en vir haar gesê om haar klere uit te trek. “Ek het nee gesê, maar hulle het gedreig dat hulle my gaan verkrag”. Die een man het haar na bewering gegryp en haar klere probeer uittrek. Die vrou het daarin geslaag om weg te kom. ʼn Woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie, kapt. Ernest Sigobe, het bevestig dat die saak by die polisie aangemeld is. Hy sê een man is in hegtenis geneem en word aangekla van poging tot verkragting. Nog twee verdagtes word gesoek in verband met die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.