Ses mense, insluitend twee kinders, het oorleef na hul boot Saterdag naby Brighton Beach in Durban gesink het.
“Die kaptein van die boot het die NSRI van sy selfoon af gekontak vir bystand,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê. “Die kaptein het gesê hy en die ander passasiers berei hulself voor om die boot te verlaat, aangesien hy vinnig met water opvul. Hy het bevestig dat die boot omgeslaan het en al ses mense aan boord nou aan die omgeslane boot vasklou.” Die NSRI het al ses mense in die water in hul lewensreddingsbaadjies aangetref.
Volgens Lambinon het die boot van die mense af weggedryf en het hulle dus nie meer iets gehad om aan vas te hou nie. Die groep is vir ligte verkluiming en skok behandel, maar is verder ongedeerd. Die groep was op ‘n visvanguitstappie.