Ses perde brand dood in “wraakaanval”

Foto: Cornel van Heerden / Beeld

Twee perde het Sondag ʼn vlammedood ontsnap, maar ses perde wat saam met hulle in die stalle by Muldersdrift was, was nie so gelukkig nie.

Ses Boerperde van Willie (51) en Petros (49) Basson, van Muldersdrift aan die Wes-Rand, het Sondagoggend in ’n vermeende wraakaanval verbrand, berig Beeld.

Willie het die oggend omstreeks 04:30 gesien dat ’n brand by die perde se stalle op hul kleinhoewe uitgebreek het en het dadelik gaan ondersoek instel. Hy het daar op die verkoolde karkasse van twee hingste, drie merries en ʼn vulletjie afgekom. ʼn Tweejarige merrie en vierjarige hings kon uit hul stalle breek en het die brand oorleef.

Daar word vermoed dat voormalige werkers, wat weens ʼn arbeidsdispuut die hoewe verlaat het, by die voorval betrokke was. Boykie Snyman, ’n ondersoekbeampte van die brandweer, het gesê dit wil voorkom of daar wel brandstigting kon wees. Hy sê egter die oorsaak word nog ondersoek en ʼn uitslag sal eers teen Woensdag gereed wees. Die Muldersdrift-polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.