Ses soek ná man verkrag is

Die Rustenburg-polisie het Saterdag bevestig hulle is op soek na ses verdagtes wat vermoedelik ʼn 32-jarige man Donderdag omstreeks 17:30 naby Mooinooi verkrag het.

Daar is aanvanklik berig dat sewe mans by die bendeverkragting betrokke was, maar die polisie sê die slagoffer het intussen in ʼn verklaring gesê dat daar ses mans betrokke was. Lees meer oor die voorval hier.

Brigadier Thulani Ngubane het  in ʼn verklaring gesê die slagoffer het geryloop van sy werk in Rustenburg na sy huis in Kroondal, sowat 5km verder, toe ʼn wit Toyota Hilux-bakkie met ses insittendes aangebied het om hom ʼn rygeleentheid te gee.

“Daar word verder beweer dat die mans verby sy woongebied gery het. Hulle het onderweg na Mooinooi in die veld in gery en op die man se beursie aangedring, maar hy het glo nie geld gehad nie,” het Ngubane gesê. “Die man beweer die verdagtes het hom met ʼn onbekende dwelmmiddel ingespuit, ʼn plastieksak oor sy kop getrek, om die beurt verkrag en in ‘n veld gelos.”

Die man is na die voorval na die PKG-hospitaal in Rustenburg geneem.

Ngubane het bevestig dat daar Vrydag ʼn saak van verkragting aanhangig gemaak is. Maroela Media het vroeër die dag navraag gedoen oor die beweerde saak, maar die polisie was in daardie stadium nie daarvan bewus nie en kon dit gevolglik nie bevestig nie.  ʼn Saaknommer is egter later aan die polisie oorhandig waarop hulle dit Saterdag kon bevestig.

“Die polisie versoek enigiemand met meer inligting om na vore te kom. Enigiemand wat dalk die voorval aanskou het of wat die voertuig kan identifiseer, moet die Mooinooi-polisiestasie skakel by 014 574 3222.”

Intussen het lt.genl. Zukiswa Mbombo, die provinsiale kommissaris van Noordwes, ná Maroela Media se navraag oor die voorval, die daad streng veroordeel. “Verkragting is ʼn sosiale probleem wat nie ag slaan op ouderdom, ras of geslag nie. Ons moet ontslae raak van persone in ons gemeenskappe wat sulke afskuwelike wrede dade pleeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.