Ses mense waaronder twee polisiebeamptes en twee veiligheidswagte is reeds dood in geweld by Lonmin se Marikana-myn naby Rustenburg.
Geweld tussen lede van die National Union of Mineworkers (NUM) en die Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) het reeds Vrydag uitgebreek. Twee veiligheidswagte is Saterdag dood nadat hulle motor aan die brand gesteek is. Die liggame van twee mynwerkers is Maandag naby die myn gevind. Die twee polisiebeamptes is glo Maandagmiddag doodgemaak. Die nasionale polisiehoof is onderweg na die toneel.
Die vakbond Solidariteit het intussen ’n beroep op die polisie en werkgewer gedoen om ernstig op te tree ten einde te verseker dat die geweld stopgesit word. Volgens Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is drie lede van die vakbond beseer toe hulle gisteraand buite die myn se perseel aangerand is voordat hulle vir werk kon aanmeld. “Een van ons lede het steekwonde opgedoen en ’n ander het brandwonde opgedoen. Die derde lid het ’n gebreekte kakebeen.” Du Plessis sê Solidariteit het in ’n skrywe aan Lonmin geëis dat die werkgewer die vakbond se lede se veiligheid verseker wanneer hulle vir diens aanmeld. “Indien die werkgewer nie die versoek nakom nie, sal Solidariteit sy lede om veiligheidsredes van die werkplek onttrek.”