Ses vas ná plaasaanval

Ses mans is in hegtenis geneem skaars 24uur nadat hulle ʼn boer, Rudolf Meyer (53), op sy plaas in KwaZulu-Natal aangeval het.

Kolonel Vincent Mdunge, ʼn polisiewoordvoerder, sê Meyer was Woensdag omstreeks 13:00 in sy kantoor op sy plaas, Vierquellen naby Wartburg, toe ʼn onbekende man hom genader en vir werk gevra het. Kort daarna het ʼn silwer Volkswagen Golf glo op die perseel gestop en ʼn groep gewapende mans het uitgespring.

“Een verdagte het ʼn geweer op Meyer gerig en hom beveel om sy kluis oop te maak waarna hulle glo twee gewere, ʼn pistool en R1 400 gesteel het,” het Mdunge gesê. Meyer is glo in sy kop geskiet voor die groep mans in die Golf van die toneel gevlug het.

Na wat verneem word, was Meyer se twee tienerdogters en 70-jarige ma tydens die voorval in die huis aangehou, maar is nie beseer nie. Meyer is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

“Die Pietermaritzburg-polisie het later die dag die verdagtes se voertuig in die middestad opgespoor. Die voertuig het onklaar geraak en het langs die pad gestaan. Twee mans is in die voertuig aangetref. Die voertuig is deursoek en die polisie het op ammunisie en R1 300 afgekom. Die mans is in hegtenis geneem wat ook tot die inhegtenisname van drie mans in Greytown gelei het. ʼn Sesde verdagte is in Msinga aangekeer. Die polisie is daarna na ʼn suikerrietplantasie geneem waar Meyer se vuurwapens gekry is,” het Mdunge bygevoeg.

Die verdagtes, tussen 23 en 29 jaar oud, moet binnekort in die New Hanover-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.