Ses vas ná wilde jaagtog

Argieffoto

Ses mans is Maandag ná ʼn wilde jaagtog in hegtenis geneem nadat ʼn rooftog by ʼn winkelsentrum in Sandton, Johannesburg uitgevoer is.

Die verdagtes het op die Morning Glen-winkelsentrum toegeslaan en met drie gesteelde voertuie weggejaag. Lt.kol. Katlego Mogale, ʼn polisiewoordvoerder van Gauteng, het gesê die mans het met ʼn grys Volkswagen Polo, ʼn wit BMW en ʼn bakkie gery. “Die Polo en BMW is in Jeppe gekaap en die bakkie is in Hillbrow gesteel,” het Mogale gesê.

“Beamptes van die polisie se blitspatrollie-eenheid, met die hulp van ʼn polisiehelikopter, die Gauteng-verkeerseenheid asook die Johannesburgse metropolisie het die verdagtes agternagesit. Een van die voertuie het ʼn opsporingstoestel gehad en dié sein is ook gevolg,” het Mogale bygevoeg.

Die verdagtes is uiteindelik in Moffatview, in die noorde van Johannesburg, aangekeer en in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens, selfone, kameras en ander elektroniese ware wat vermoedelik by die winkelsentrum gesteel is. Die polisie het ook beslag gelê op die voertuie.

Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.