Ses vermeende rowers in Oos-Kaap aangekeer

Ses mans wat glo beplan het om ʼn gewapende roof in die Oos-Kaap uit te voer, is in Port Shepstone, KwaZulu-Natal, aangekeer, het die polisie Sondag gesê.

Kaptein Thulani Zwane het gesê die ses mans is Saterdag in hegtenis geneem na ʼn hoëspoed-jaagtog wat in ʼn skietgeveg met die polisie op die N2-snelweg geëindig het. Die polisie het verneem dat ses mans wat in ʼn Volkswagen Jetta rondry in besit is van onwettige wapens. Die polisie het die motor op die N2 naby Port Shepstone opgemerk. Hulle wou die motor aftrek, maar die bestuurder het weggejaag. “Toe ons die motor uiteindelik ʼn ent verder kon stop het twee van die insittendes uitgespring en het begin skiet terwyl hulle weggehardloop het,” het Zwane gesê.

“Die polisie het teruggeskiet en die verdagtes het in die bosse langs die pad verdwyn. Vier ander insittendes in die motor het hulself aan die polisie oorgegee en is onmiddellik in hegtenis geneem. Twee ongelisensieerde pistole was in hul besit.” Die honde-eenheid het die twee wat te voet gevlug het, opgespoor. Hulle is met skietwonde aan hul bene opgespoor. “Toe hulle deur die polisie ondervra is, het die mans erken dat hulle op pad was na Bizana in die Oos-Kaap om ʼn gewapende rooftog uit te voer.”

Hulle word aangekla van die besit van ʼn vermeende gesteelde voertuig, poging tot moord, en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Zwane sê die mans sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Port Shepstone verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.